Sarah Ludick gaan nie rus voor daar nie verkeerskalmering voor die plaaslike kerk is nie.
Ludick, ’n lidmaat van die Verenigde Gereformeerde-kerk in Silversands, is deel van ’n groep wat al jare sukkel om verkeerskalmering voor die kerk te kry.
Die kerk is reg langs die besige Nooiensfonteinweg en regoor die Nooiensfontein-sportkompleks.
“Dit is twee plekke waar baie mense bymekaar kom en waar baie mense die pad oorsteek.
“Dit skep ’n situasie wat nie net dreig om mense se dood te veroorsaak nie, maar waar mense reeds doodgery is,” sê sy.
Een van haar mede-lidmate, Jeffrey Smith, is voor die kerk doodgery toe hy probeer het om ’n siek man oor die pad te help.
“Smith se dood sal ons altyd herinner aan die gevaar om die pad oor te steek. Hy was een van die eerste mense wat daarvoor begin veg het,” sê Ludick.
’n Kruis was op die plek waar Smith doodgery is, maar terwyl TygerBurger op ’n ter plaatse ondersoek voor die kerk is, merk Ludick op dat dit verwyder is.
“Hulle kan die kruis steel, maar ons sal nie ophou om die geveg voort te sit nie,” sê hy.
Deur die week is Ludick deel van die plaaslike “walking bus”, wat saam met kinders na en van die skool stap om hul veiligheid te verseker. Ook hulle is in gevaar wanneer hulle die pad oorsteek.
“Ek is al soggens vroeg op om seker te maak die kinders kom veilig oor die pad. Jy weet mos hoe is kinders, hulle kyk nie rond nie en met motorbestuurders wat hier soos besetenes jaag, gaan ons nog groter tragedie hier sien,” sê Ludick.
Terwyl TygerBurger op die toneel is, vlieg motors verby en voetgangers, veral kinders onderweg skool toe, moet mik-mik oor die besige pad. “Wag eers!” roep Ludick.
Ná Smith se aanvanklike skrywe in 2015 het die Stad Kaapstad bevind dat hoewel daar twee vulstasies en verskeie skole is, verkeerskalmering nie ’n prioriteit is nie.
Op ’n onlangse navraag deur TygerBurger het Nkosiphendule Lombi, plaaslike raadslid, gesê ’n aansoek is by die vervoer-afdeling van die Stad, met die hulp van die subraad, ingedien.
“Ons wag nog op interne prosesse,” het Lombi gesê.
Volgens Ludick het hulle nou ou bewyse gevind dat daar wel jare gelede vir verkeerskalmering aansoek gedoen is. “Miskien help dit ons om vinniger gehelp te word.”
In ’n e-pos wat TygerBurger onder oë gehad het, belowe ’n senior klerk van die subraad, dat hul griewe ondersoek gaan word.


