Lekker lag by die Suidoosterfees

,

Daar is geen ouderdomsbeperking op drome en verbeelding nie, en lag word nie deur tyd ingeperk nie. Dié wysheid van Walt Disney is van toepassing op komedies wat vanjaar van […]


Daar is geen ouderdomsbeperking op drome en verbeelding nie, en lag word nie deur tyd ingeperk nie. Dié wysheid van Walt Disney is van toepassing op komedies wat vanjaar van 30 April tot 4 Mei by die Suidoosterfees op die planke is.

Marc Lottering, Marianne Thamm, Mavis vannie Lavis en Aunty Cheryl gaan gehore laat kraai van plesier, en Cathy Specific kom maak haar eerste buiging by die fees. Die Joe Barber-span is terug om hul 25ste bestaansjaar in die bedryf te vier. David Isaacs en Oscar Petersen se skreeusnaakse barbierwinkel-manewales van Boeta Joe en Gamat hou steeds die rekord as die topverkopervertoning in die geskiedenis van GrandWest se Grand Arena. Daar is twee Joe Barber 25-vertonings op Werkersdag, Donderdag 1 Mei, in die Kunstekaap-operahuis.

Marc Lottering delf in sy familiegeskiedenis en bring stories uit sy kinderjare na vore. As kind het Marc se ma hom oortuig dat die Lotterings afstam van blonde Duitse Karibiërs. Dié staaltjie lei tot skreeusnaakse insigte oor identiteit en ons land se geskiedenis. Marc Eugene Lottering is ook op Werkersdag op die feesprogram en het ‘n ouderdomsbeperking van 16.

Vlymskerp

Die akteur Brendan van Rhyn gee al dekades lank gestalte aan Cathy Specific, die nimlike fopdosser. Aan dié karakter se spitsvondigheid is daar geen einde nie. Sy steek die draak met alles onder die son.

Specifically Cathy word van 1 tot 4 Mei om 18:30 in die ATKV-Boeke-oase by die fees opgevoer. Die glansvrou is geskik vir toeskouers ouer as 16.

Marianne Thamm, skrywer en ondersoekende joernalis, kom deel met haar vlymskerp satiriese tong skreeusnaakse dog hoopvolle insigte in die binnewerkinge van die land se politieke enjin. In Vuisvoos, maar nog regop: Herlaai, ook vir feesgangers 16 en ouer, huiwer Thamm nie om dié enjin tot in die rooi te rev nie. Sy fokus op die Regering van Nasionale Eenheid se suksesse en stommiteite – en Donald Trump sal sekerlik ook onder skoot kom.

Onder die jonger personas wat weet hoe om die lagspiere te prikkel, is Mavis vannie Lavis (Veronique Jephtas), wat verlede jaar haar verhoogdebuut by die Suidoosterfees gemaak het, en die loslittige Aunty Chery (Sohail Booise). Mavis mettie marbles word op 1 en 4 Mei in die Zip Zap Dome, die groot tent agter die Kunstekaap- teater, aangebied, wat ook die venue is vir Aunty Cheryl se lunch op 1 Mei. Mavis en Auntie Cheryl delf diep in sosiale media as ‘n bron van eindelose pittighede.

Vertonings in die fees se komedie-segment word aangevul met skreeusnaakse dramas in die NATi Teaterfeesprogram en kort, kragtige 30-minuut-vertonings in die fees se Kort voor lank-afdeling.

Besoek www.suidoosterfees.com

Oscar Petersen en David Isaacs is te sien in Joe Barber. FOTO: Johann Botha

You need to be Logged In to leave a comment.