’n Voorval van beweerde bendegeweld het tydens eerste pouse vandag (11 Februarie) die lewe van ’n 18-jarige leerder by Hoërskool Scottsdene in Kraaifontein geëis.
Carlo Basson is glo ten aanskoue van talle leerders en onderwysers deur ’n mede-leerder in die skool se binnehof dood gesteek.
Brigadier Gerda van Niekerk, stasiebevelvoerder van die Kraaifontein polisiestasie, was in beheer van die misdaadtoneel en het bevestig dat Basson ’n bendelid was.
“Verskeie verdagtes is aan ons uit gewys en alle leidrade sal ondersoek word,” het sy gesê.
Verskeie leerders, wat nie hul name wou noem nie, het buite die skoolhekke gesê dat hulle gesien het hoe Basson steier en val.
“Die een oomblik het hy nog rondgestap en die volgende oomblik het hy dood op die grond gelê,” het een getraumatiseerde leerder gesê.
Die leerders is kort na die insident huis toe gestuur en talle bekommerde ouers het by die skoolhekke rondgemaal.
Basson se ouma, wat ook sy grootmaak-ma is, is na die toneel ontbied waar sy in kennis gestel is van haar kleinseun se dood.
“Gaan dit die eerste van baie meer sulke insidente wees of gaan ons kinders veilig wees. Hoe kan ons hulle met ’n geruste hart soggens skool te stuur,” het een ouer, Maria van der Poel, gesê.
Talle ander ouers het aan TygerBurger gesê dat hulle nie hul kinders môre skool toe gaan stuur nie. Die ouers meen dat sekuriteit by die skool drasties opgeskerp moet word.
“Hulle sal meer wagte moet kry om die kinders soggens te deursoek voor hulle die skoolterrein betree of ’n metaalverklikker by die voorhek moet kry,” het André Saaiman, ‘n ander ouer, gesê.
Die polisie het traumaberaders ontbied om Basson se naasbestaandes en ander leerders te ondersteun.
Volgens ’n geskokte skoolhoof, Carel Cupido, was dit die eerste insident van bendegeweld by die skool, wat sedert 1970, in die hartjie van die bende geteisterde gebied, die gemeenskap bedien.