Ander mense dink dalk nie so nie, maar vir hul skool is dit ’n groot prestasie.
So sê Marshall Cupido, hoof van die Laerskool Silversands, nadat ’n leerder van sy skool sewende in die Westelike Provinsie se provinsiale atletiekbyeenkoms geëindig het.
Die twaalfjarige Zaniqa Adriaanse, ’n gr. 6-leerder by die skool, is ’n 100 m-atleet wat groot belofte toon. “Vir ons is dit ’n reuseprestasie, as jy in ag neem hoe groot die provinsie is en dat ons nie ’n tradisionele sportskool is nie. Vir ons skool, gemeenskap en distrik is dit massief. Dit spreek boekdele oor die positiewe impak wat ons by hierdie skool wil maak. Mag sy nie die laaste leerder van hierdie skool wees wat uitblink nie,” sê Cupido.
Volgens Cupido hoop hy Zaniqa gaan ander leerders by die skool inspireer om ook in sport uit te blink.
Zaniqa sê sy hardloop van gr. 4 af. “Hardloop is my ding, maar hierdie was die eerste jaar wat ek aan kompetisies deelneem. Volgende jaar wil ek probeer om my posisie te verbeter deur harder te werk,” sê sy.
Cupido sê wat Zaniqa se prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat sy nog kaalvoet hardloop, terwyl ander atlete met spykerskoene hardloop.
Silversands knap tans ’n stuk oop grond agter die skool op om dit as sportterrein in te rig.
“Ons kort hulp om die geriewe so te maak dat ons leerders in al die hoofstroom-sporte kan begin uitblink,” sê Cupido.
Indien jy die skool kan help om sy sportgeriewe op te knap, stuur ’n WhatsApp Cupido by 084 550 3893.


