Die gemeenskap van Bellville is in rou gedompel nadat ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Bellville, Matthew Cockrell (15), verlede week ná ’n skokvoorval oorlede is.
Cockrell het vir die vakansie by sy pa in die Midstream-gebied in Gauteng gekuier toe hy op 26 Desember aan ’n verlengingskoord geraak het en geskok is.
Hy is daarna na die Mediclinic Midstream geneem, waar hy onder verdowing geplaas is. Hy is na wat verneem word verlede Vrydag, 7 Januarie, in die hospitaal oorlede.
’n Boodskap wat deur familielede versprei is, het bevestig dat Matthew sy “engelvlerke gekry het en by God is”.
Die boodskap bedank almal vir gebede en vra dat hy onthou sal word vir die “amazing vriend en mens wat hy was”.
In ’n Facebook-plasing spreek die Hoërskool Bellville ook sy medelye uit. “Hoërskool Bellville gaan jou mis en jy laat ’n groot leemte in die Leeu-familie.”
Die beheerliggaam, hoof en personeel wil ons innige simpatie en diepste medelye teenoor die ouers, gesin, familie en vriende uitspreek.”
Die Laerskool De Tyger, waar Matthew ’n leerling was, het ook sy medelye uitgespreek. “Dit is ’n baie hartseer dag vir ons De Tyger-gemeenskap. Baie sterkte aan Matthew se naasbestaandes.”
Vernon Dickason, ’n visehoof by die skool en ook Matthew se rugbyafrigter, het hom as ’n “baie lewendige kind” beskryf. “Hy was spontaan en vriendelik en het altyd gelag.”
Matthew was ’n kranige sportman en buiten karate, waarin hy op provinsiale vlak presteer het, het hy ook aan atletiek en rugby deelgeneem.
Die ongeluk het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en verskeie bidgroepies is gestig.
Hannelie van Lill, woordvoerder van die skool, sê mense wat nie eens die familie geken het nie het byeengekom om te bid. “Ek was bewoë oor al die omgee in die gemeenskap.”
Een van die skool se onderwysers, Elaine Kruger, het ná die ongeluk opgevlieg en in die hospitaal vir Matthew blomme en ’n kaartjie geneem.
Dickason sê die skool sal ook met die beheerliggaam in gesprek tree oor ’n moontlike gedenkdiens.
Sy ma, Sheena Williams, het gesê sy sal moontlik later met die media praat.


