Die Wes-Kaapse tak van die Broodboomvereniging van Suid-Afrika (BVSA) hou sy jaarlikse ope dag en plantverkoping op Saterdag 8 November van 09:00 tot 15:00 in Tara, Durbanville.
‘n Verskeidenheid broodbome is weer vanjaar beskikbaar, terwyl ander skaars en eksotiese plante ook te koop sal wees.
Lewende fossiele
“Broodbome word dikwels lewende fossiele genoem, aangesien hulle een van die oudste oorlewende groep saadplante is wat voor die era van dinosourusse, sowat 300 miljoen jaar gelede, verskyn het. Dit is dus ‘n besondere belewenis om hierdie plante in hul natuurlike habitat te besoek, en ‘n voorreg om hierdie plante en saailinge wettig te kan verkry,” sê Kobus van der Walt, voorsitter van die Wes-Kaapse tak van die BVSA.
Die BVSA is ‘n nie-winsgewende organisasie wat die wettige versameling en kweek van broodbome aanmoedig. Inligting soos die identifikasie, versorging en beheer van plantsiektes van broodbome word deur werksessies en tuinbesoeke met lede en die publiek gedeel.
Toere word ook vir lede gereël om die plante in hul natuurlike habitat te besigtig.
Beskerm
Broodbome word streng ingevolge wetgewing beskerm en beheer, en slegs permithouers met die nodige dokumentasie word toegelaat om broodbome te verkoop.
Die verkoping is nie net vir lede van die vereniging nie, maar enige tuiskweker, ook van ander plante, is welkom om hul plante te kom verkoop teen ‘n 5%-heffing op verkope.
Die geld wat ingesamel word, word deur die tak aangewend vir die hou van werksessies oor broodbome, die reël van habitattoere en alle ander projekte.
Vink se Tuin
Vink se Tuin is onder meer ‘n projek wat deur die vereniging in vennootskap met die Stad Kaapstad in Majik Forest-park onderneem is.
In 2016 is daar sowat 140 broodbome geplant, wat van ‘n private versamelaar aangekoop is. Die vereniging is verantwoordelik vir die instandhouding van hierdie plante en die sny van die gras in die gebied.
Mense word genooi om die broodboomtuin in Majik Forest (op die hoek van Jip de Jager-rylaan en Van Riebeeckshof-weg) te besoek.
Volgens Van der Walt wil die vereniging graag dié tuin vergroot en versoek mense om inheemse broodbome in hul tuine, wat te groot geword het, aan die vereniging te skenk om in die tuin te plant vir die nageslag.
Verlig druk
“Deur die aanbied van broodboomverkopings het die vereniging oor die afgelope jare ‘n baie belangrike bydrae gelewer om die visie van ‘n broodboom in elke tuin te bevorder. Broodbome vertoon nie net mooi nie, maar is ook van waarde en redelik droogtebestand. Die voortplanting en vermeerdering van broodbome verseker nie net die voortbestaan nie, maar verlig ook die druk om plante onwettig uit die natuur te verwyder,” sê Van der Walt.
Die ope dag en verkoping vind plaas by Krisantslot 1 in Tara. Toegang is gratis. Mense kan ook op die dag by die vereniging aansluit teen R260 per jaar om hul kennis van broodbome uit te brei.






