‘Die beplande nuwe lughawe buite Durbanville kan die toegang tot markte vir boere se produkte verbeter, het Deon Cloete, besturende direkteur van Cape Winelands Airport, gesê tydens ’n praatjie by ’n gesamentlike vergadering van die Durbanville- en Philadelphia-landbouverenigings.
Die vergadering is verlede Dinsdagaand op die Loch Lynne-wynlandgoed gehou.
Toegang tot markte
“Dr. Ivan Meyer, provinsiale minister van landbou, is passievol oor die daarstel van ’n landbou-korridor in die Wes-Kaap. Met die lughawe sien ons meer toegang tot markte vir die produkte van boere,” het Cloete gesê.
“Landbou bly een van die grootste dryfvere in die Wes-Kaapse ekonomie. Met deeglike beplanning kan die lughawe en landbou sy aan sy bestaan. Dit (die lughawe) het die potensiaal om met die provinsie ’n vennootskap te vorm vir die daarstel van ’n landbousone.
“Bioverwerking (Biodigesting) is by die ontwikkeling ingesluit as deel van ’n groen agenda,” het hy gesê.
Bioverwerking is ’n toiletstelsel wat berus op die anaërobiese afbreek van organiese afval tot kunsmis en biogas as byprodukte (bron: https://goenergylink.com/blog/what-is-a-biodigester).
“Die byprodukte hiervan kan aan die landbousektor beskikbaar gestel word om oeste te verbeter,” het hy gesê.
Direkte lugverkeer
“Die lughawe kan ook boere se toegang tot markte verbeter deurdat daar direkte lugverkeer beskikbaar sal wees om produkte by markte te kry. Daar sal geskeduleerde vragverkeer beskikbaar wees en hoe meer volume, hoe minder sal vervoertariewe wees.
“Meer en meer produkte vereis deesdae lugverkeer, soos bessies. Vars produkte kan ook op die lughaweterrein gebruik word vir voedselproduksie. Vervaardigde kossoorte is ook geskik vir lugvervoer omdat dit tydsgebonde is.
“Met die nabygeleë treinspoor (by Fisantekraal) is ’n kombinasie van lug-, spoor- en seevervoer moontlik,” het Cloete gesê. Dié treinspoor verbind twee hawens – dié van Kaapstad en van Saldanhabaai.
“Die burgemeester en Wes-Kaapse premier ondersteun ons, en het selfs hul beplanners beskikbaar gestel. Ons praat reeds die laaste twee, drie jaar met die beplanners. Ons is nou besig met die omgewingsimpakproses en sal jul insette waardeer,” het hy aan boere gesê.
Besluitneming
Volgens Cloete hoop hulle om teen einde vanjaar al die nodige verslae gereed te hê vir besluitneming en goedkeuring van die R7 biljoen-projek.
“Ons wil teen volgende jaar begin bou. Dit sal ongeveer twee jaar duur en ons hoop om die eerste fase van die lughawe teen middel 2027 te open,” het hy gesê.
Die eerste fase sal sowat 1,7 miljoen passasiers per jaar akkommodeer, fase 2 sowat 2,5 miljoen passasiers, fase 3 sowat 3,5 miljoen passasiers, fase 4 sowat 4,4 miljoen passasiers en in fase 5 sowat 5,2 miljoen passasiers.
“Ons werk saam met die Kaapstad Internasionale Lughawe en gaan die lugruim deel. Ons is ver genoeg van mekaar. Waar die Kaapstad Internasionale Lughawe teen 2050 sowat 15 of 16 miljoen passasiers per jaar sal akkommodeer, gaan ons sowat 5 miljoen passasiers akkommodeer. Ons wil nie ’n tweede Kaapstad-lughawe wees nie. Ons lughawe gaan skoon, groen en smart wees – gerieflik en sonder lang toue,” het Cloete gesê.
Sowat die helfte van die 800 ha-terrein sal in die eerste fase bebou word – dus 400 ha in totaal. Dit sluit onder meer ’n aanloopbaan van 3,5 km in. In die tweede fase sal meer vliegtuigloodse en geboue gebou word.
Volle internasionale lisensie
Toegang tot die lughawe-terrein sal vanuit die westekant verleen word. “Hoewel ons hoofsaaklik plaaslike kommersiële vlugte gaan doen, doen ons ook aansoek vir ’n volle internasionale lughawelisensie,” het Cloete gesê.
het hy gesê.
Cloete het gesê die projek kan volgens ’n studie oor die finansiële en ekonomiese lewensvatbaarheid van die lughawe wat hulle vir ’n aansoek om internasionale lisensie moes laat doen het, ’n beraamde 34 778 werksgeleenthede in die konstruksiefase skep, en ’n beraamde 58 651 werksgeleenthede in die operasionele fase.
Van die kwessies wat na afloop van die praatjie geopper is, is onder meer geraasbesoedeling, stofbesoedeling en verkeersdruk weens vragmotorverkeer tydens die konstruksieperiode, asook veiligheid en sekerheid.
Cloete het by die vergadering gesê die eienaar van Cape Winelands Airport, RSA Aero, het ten doel om in die volgende 30 jaar ’n netwerk van lughawens te besit en bedryf.
RSA Aero het onlangs ’n tender ingedien vir die koop van die Plettenbergbaai-lughawe en wil graag ook ’n lughawe by die Gariepdam ontwikkel, het hy gesê.


