Die top-matriekpresteerder in die land het ’n besige paar dae agter die rug.
Janke van Dyk (18), van Proteahoogte in Brackenfell, is Donderdag by ’n geleentheid in Johannesburg as die topmatrikulant in die land aangewys.
Daarna het sy en haar ma, Zenobie (50), en pa, Jan (53), vroegoggend teruggevlieg Kaapstad toe om haar matriekuitslae self by die Hoërskool Bellville te gaan haal.
“Dit was baie spesiaal,” vertel Van Dyk oor haar terugkoms by die skool.
“Ons skoolhoof [Deon du Plessis] het die uitslae gelees die topdrie aangekondig, en toe hy my naam lees, het die ander my staande toegejuig,” vertel sy oor Vrydagoggend 5 Desember se gebeure by haar alma mater.
Tussendeur word haar foon warm gebel met gelukwensings en vrae vir onderhoude.
“Dit is nogal oorweldigend,” vertel sy. “Ek voel baie geëerd.”
Van Dyk sê sy het nooit gedink sy sal die hoogste punte behaal uit die sowat 600 000 matrieks wat vanjaar die eksamen afgelê het nie. “Dit was werklik ’n verrassing.”
Sy skryf haar sukses aan harde werk toe. “Ek weet álmal sê dit en dis ’n cliché, maar dit ís wat dit verg.”
Dié slimkop sê sy het veral staat gemaak op ou vraestelle. “En ’n mens moet van die begin af fokus.”
Haar vakke verlede jaar was Afrikaans, Engels, wiskunde, natuurwetenskappe, lewenswetenskap, lewensoriënterin, rekeningkunde en gevorderde wiskunde, wat deur die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) aangebied is.
“Ek hou van die wetenskappe,” vertel sy van haar gunstelingvakke, “dus, lewenswetenskap (biologie) en fisiese wetenskap (natuur- en skeikunde), maar ek het eintlik van al my vakke gehou.”
Sy gaan later vanjaar chemiese ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch studeer.
Haar pa is ’n elektroniese ingenieur en haar ma werk in die klante-bystandafdeling van Sanlam.
Sy sukkel ook om ‘n gunstelingonderwyser of -onderwyseres uit te sonder.
“Dit sal seker my Engels-onderwyseres, Denise Stassen, wees. Sy was regtig vir my ’n inspirasie. Sy is baie passievol oor haar vak.”
Haar biologie-onderwyser, Johan Joubert, is ook ’n gunsteling.
Land se topmatrikulant wil ingenieur word
Die top-matriekpresteerder in die land het ’n besige paar dae agter die rug.
Share this post:

Share this post:
Related Articles
Leave a comment
You need to be Logged In to leave a comment.