Die Laerskool Sarepta het verlede week ’n spesiale saalbyeenkoms gehou as vaarwel vir Mario Solomons, onderhoof, kort voor sy vertrek na Sri Lanka.
Die leerders het aan ’n vasvrakompetisie oor krieket en oor Sri Lanka deelgeneem met ’n paar pryse wat op die spel was, sê Jennifer Roelfse, mede-onderhoof.
Solomons is die kaptein van die SA Protea Veterane-krieketspan, wat verlede Donderdag na Colombo vertrek het om aan die internasionale meesterskrieketraad (IMC) se krieketwêreldbeker vir spelers ouer as 50 jaar deel te neem. Die wêreldbekertoernooi het Sondag 9 Februarie begin en duur tot Sondag 23 Februarie.
Solomons het voorheen vir die Kuilsrivier-krieketklub se eerstespan gespeel voordat hy daar begin afrig het. In die 1990’s het hy ’n paar eersterangse wedstryde vir die WP gespeel.
Hy speel sedert 2021 veteranekrieket en het ook in die vorige oor 50’s-wêreldbeker vir die Proteas gespeel, wat in 2023 in Kaapstad gehou is. Die Proteas het toe tot in die eindstryd gevorder maar teen Engeland verloor.
Solomons se seuns, Kéane en Kaden, wat beide provinsiale krieket op skool gespeel het, het ook al vir Kuilsrivier se eerstespan gespeel. Albei is, soos hul pa, paaltjiewagter en regterhand-kolwer.
Kaden het in 2022 die SA o.19 Protea-span by die Internasionale Krieketraad se o.19 krieketwêreldbeker in die Wes-Indiese-eilande verteenwoordig. Kaden het toe gesê sy pa was nog altyd ’n dryfkrag en inspirasie vir hom en sy broer. “Hy is ons afrigter – nie net vir krieket nie, maar ook vir die lewe.”
Passie
Solomons het kort na sy aanwysing as kaptein van die Protea-veterane gesê dit is vir hom ’n groot eer. “Krieket is soveel meer as net ’n spel vir my; dit is ’n lewenslange passie, ’n bron van vreugde en ’n manier om ander te inspireer.”
Kort voor die span se vertrek na Sri Lanka het hy gesê die warm, vogtige weer en die land se krieketvelde met draaiblaaie (turning pitches) is van die uitdagings wat die span sal moet trotseer, maar dat hulle gereed is en Suid-Afrika trots wil maak.
Die Protea-veterane het Sondag in hul eerste wedstryd, teen die Wes-Indiese-eilande, met 18 lopies verloor.
Solomons het na die wedstryd gesê dit was ’n wekroep, maar dat die span besig is om aan te pas by die omstandighede.
Hy was positief dat hulle net sterker sal terugkom vir hul volgende wedstryd, vandag (Woensdag) teen Australië.
In die res van die eerste ronde kragmetings kom die Proteas te staan teen Wallis (Donderdag); Indië (Saterdag 15 Februarie); Pakistan (Maandag 17 Februarie) en Kanada (Dinsdag 18 Februarie).
Besoek Internasional Masters Cricket (stroming van wedstryde) of Veterans Cricket South Africa op Facebook vir meer inligting.