Louis Mouton, skoolhoof en Stephanie Burgess, beheerliggaamvoorsitter, onthul gister die Laerskool Mikro se skoolwapen met die skoolleuse nou in Latyns" "Laborate Et Create".
Louis Mouton, skoolhoof en Stephanie Burgess, beheerliggaamvoorsitter, onthul die Laerskool Mikro se skoolwapen met die skoolleuse nou in Latyns “Laborate Et Create”. FOTO:Carina Roux

KUILSRIVIER: Die Laerskool Mikro spog nou met ‘n splinternuwe leuse. Die leuse is amptelik vanoggend (Dinsdag 22 Julie) tydens ‘n saalbyeenkoms met die aanvang van die derde kwartaal, onthul.

Die verandering spruit uit die aanpassing van die skool se taalbeleid – van slegs Afrikaans (enkelmedium) na parallelmedium om ook Engelse leerders te akkomodeer.

In Januarie vanjaar is die eerste Engelse Graad R-klas by die skool ingeneem. Dit het Mikro se geleidelike oorgang (soos wat die klas jaarliks aanskuif) na ‘n volwaardige parallelmediumskool ingewy.

Louis Mouton, skoolhoof, het verduidelik die hoofrede vir die omskakeling (om Engels in te sluit), is sodat die skool die veranderende gemeenskap waarin dit geleë is, beter kan dien.

“Die skool staan nou as die ‘Laerskool Mikro Primary’ bekend en die naam is reeds so voor op die skoolgebou aangebring,” het Mouton gesê.

Van links is Annerie Spreeth (adjunkhoof), Louis Mouton (skoolhoof) en Stephanie Burgess (beheerliggaamvoorsitter) met die Laerskool Mikro se skoolwapen met die skoolleuse nou in Latyns" "Laborate Et Create".
Van links: Annerie Spreeth (adjunkhoof), Louis Mouton (skoolhoof) en Stephanie Burgess (beheerliggaamvoorsitter) met die Laerskool Mikro se skoolwapen met die leuse nou in Latyns. FOTO’S: Carina Roux

Die skool se slagspreuk: “Waar kind nog kind kan wees” is ook reeds tweetalig. Die Engelse weegawe; “A place where childhood is cherished”, pronk ook op die skoolgebou.

Mouton vertel alle amptelike kommunikasie en briefhoofde is alles reeds tweetalig.

“Die logiese volgende stap was om die leuse: “Werk en skep” aan te pas. In plaas van ‘n tweetalige leuse is op Latyns besluit, soos by baie ander skole die geval is,” het Mouton gesê.

Die nuwe leuse: “Laborate Et Create” is die Latynse vertaling van “Werk en skep”.

Geskiedenis

Mouton het aan die leerders verduidelik ‘n leuse is ‘n slagspreuk wat kan dien as motivering – ‘n stelling wat ‘n doel of strewe verwoord.

“Jou (eie) leuse is jou keuse,” het Mouton gesê in verduideliking dat dit belangrik is om goeie keuses in die lewe te maak.

Annerie Spreeth, adjunkhoof, het ‘n oorsig oor die geskiedenis van die skoolwapen en leuse sedert Mikro se ontstaan in 1972, gegee.

Spreeth het genoem dat daar teen 1971 ‘n behoefte ontstaan het vir ‘n nuwe Afrikaanse laerskool in Kuilsrivier. Die skoolgebou is in 1972 voltooi. Die skool sou aanvanklik die Laerskool Kuilsrivier No.2 genoem word.

Spreeth het vir die leerders gesê omdat dit nie ” ‘n lekker naam was nie” is daar gou besluit dat dit moes verander.

“Die Laerskool Mikro is vernoem na ‘n belangrike persoon wat op ons dorp gebly het, wat baie vir Afrikaans gedoen het.”

Annerie Spreeth

Sy het gesê dat die skoolhoof, Ronnie de Bruyn vir Cornelis Pama, bekende heraldikus, in Mei 1972 genader het oor die ontwerp van ‘n skoolwapen. Pama het gevra vir die geskiedenis van die skool, maar omdat dit ‘n nuwe skool was het De Bruyn toe vir hom die geskiedenis van Kuilsrivier gegee. Die ouers is ook gevra vir ontwerpvoorstelle maar net twee voorstelle is ontvang.

Pama het die wapen ontwerp en die leuse voorgestel. Die enigste versoek van De Bruyn en die skoolkomitee was dat die kleure van die wapen en die skool nie moet bots nie.

Wapen

Spreeth het uitgewys dat die aanvanklike ligteblou mettertyd na ‘n donkerblou verander is. Die wapen is nooit geregistreer nie omdat die koste van R200 as te duur beskou is.

Spreeth het aan die leerders verduidelik dat die twee sirkels op die wapen “heraldiese fonteine” is wat sy oorsprong het van die Nederlandse ”Cuylen” (waterpoele) wat ook die oorsprong van Kuilsrivier se naam is.

“Gewoonlik word letters nie op wapens gebruik nie, maar die skildgedeelte van die wapen is so verdeel dat dit lyk na ‘n M vir Mikro,” het Spreeth gesê.

Sy het ook die veer of penveer uitgewys wat dui op Mikro (C.H Kühn), die skrywer wat amper 100 Afrikaanse boeke geskryf het en ook ‘n skoolhoof in Kuilsrivier was.

Die leuse of wapenspreuk, “Werk en skep” het Spreeth verduidelik is gekies as bevestiging dat niks nuuts geskep word as dit nie voorafgegaan word deur harde werk nie.

Mouton het met die bekendstelling van die nuwe leuse wat nou onder die skoolwapen sal pryk, vertel die gesprek om die leuse te verander het laas jaar begin. Die beheerliggaam het die Latynse leuse vroeër vanjaar goedgekeur.

Stephanie Burgess, beheerliggaamvoorsitter het by Mouton op die verhoog aangesluit vir die formele onthulling van die skoolwapen met die nuwe Latynse leuse.

Louis Mouton, skoolhoof en Stephanie Burgess, beheerliggaamvoorsitter, onthul gister die Laerskool Mikro se skoolwapen met die skoolleuse nou in Latyns" "Laborate Et Create".
Louis Mouton, skoolhoof en Stephanie Burgess, beheerliggaamvoorsitter, onthul die Laerskool Mikro se skoolwapen met die skoolleuse nou in Latyns: “Laborate Et Create”.
Van links is Annerie Spreeth (adjunkhoof), Louis Mouton (skoolhoof) en Stephanie Burgess (beheerliggaamvoorsitter) met die Laerskool Mikro se skoolwapen met die skoolleuse nou in Latyns: “Laborate Et Create”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article