Die jong krieketspelers van die Laerskool Mikro sal danksy die skool se ondersteunersklub nou hul vaardighede in opgeknapte krieketnette kan slyp.
Liana Visser van die ondersteunersklub, Mikro Klub 50 (MK50), sê die opknap is deel van ’n projek wat streef om leerders se ervaring te verbeter en om gemeenskapsbande te versterk.
“Hierdie inisiatief, gedryf deur die toegewyde ondersteuning van ons lede, is deel van ons voortdurende missie om die Laerskool Mikro te ondersteun tot voordeel van die leerders en hul gesinne,” sê Visser.
Sy sê die opknap van die skool se krieketnette is vir die klub ’n hoogtepunt.
“Dit bied Mikro se jong krieketspelers die geleentheid om in ’n veilige, opgeknapte omgewing te oefen en hul vaardighede te ontwikkel.
Sportkultuur
“Die verbeterde geriewe sal ook help om Mikro se sportkultuur te bevorder en leerders aan te moedig om aktief deel te neem aan krieket en ander sportsoorte.
“Dit is ’n belegging in die gesondheid en ontwikkeling van die jeug en is iets waarop ons as klub besonder trots is.”
Die sukses van die projek lê in die gemeenskap se betrokkenheid, sê sy. “Ouers, wat lede van MK50 is, het hul tyd en hulpbronne gegee om hierdie droom te verwesenlik.”
Klublede betaal maandelikse ledegeld van R100, R250 of R400 (drie vlakke met verskillende voordele).
“Die geld word dan vir projekte soos hierdie aangewend,” sê Visser.
Sedert MK50 se ontstaan poog die klub om betekenisvolle bydraes te maak tot geleenthede soos sportdae.
“Hierdie projek is ’n goeie voorbeeld van ons doel om die skoolomgewing te verbeter terwyl ons unieke netwerkgeleenthede vir die breër gemeenskap skep.
“By MK50 geniet ons lede voordele wat wyer strek as net deelname. Lede ontvang waardevolle blootstelling deur bemarkingsplatforms en ander voordele vir vennote.
“Ons glo daaraan om soveel terug te gee aan ons ondersteuners as wat hulle aan ons gee, wat hierdie klub ’n ware samewerkingsprojek tussen Mikro en die gemeenskap maak.”
Visser sê enigiemand kan by MK50 aansluit, jy hoef nie ’n ouer van die skool te wees nie. Die klub is ’n platform vir almal wat ’n verskil in die lewe van die jeug wil maak en bydraes wil lewer. Deur aan te sluit of ’n donasie te maak, help jy om die toekoms van ons jongmense te versterk.
‘’Borgskappe is meer as net finansiële bydraes – dit gaan oor samewerking en die skep van waarde vir almal wat betrokke is.
“Ons bedank graag ons borge, MK50-lede en almal wat betrokke was by opknap van die krieketnette: Louis Botha van Intelligent Power Solutions, Anru Marais van Arand Ingenieurswerke, Petri Gouws van Powertread, Chris Burgess van BHR Design en Francis Horne van A&F Farm Contractors.”
- Besoek www.mk50.co.za vir meer inligting.