Jade Carnow het haar blydskap en dankbaarheid oor die baadjieskenking met die Kasselsvlei-leerders gedeel.


Ná dié eindelose swaar reënbuie wat die afgelope paar weke oor Kaapstad uitgesak het, was daar nog nooit ’n meer gepaste tyd om sowat 700 reënbaadjies aan leerders van die Laerskool Kasselsvlei in Bellville-Suid te skenk nie.

Dit, te danke aan ’n barmhartige oorsese skenker van die Verenigde Koninkryk, in samewerking met ’n plaaslike onderneming in die toerismebedryf.

“Een van ons juffrouens, Jade Carnow, se pa werk in die toerismebedryf, wat met ’n oorsese maatskappy dié skenking moontlik gemaak het. Die skenking van £6 000 is aan Kasselsvlei gemaak, op die voorwaarde dat ons die geld neem en dit self aanwend tot die voordeel van elke leerder,” vertel die skoolhoof, Frank Agulhas.

Vandaar is ’n bestelling van 700 swart- en-wit baadjies deur PEP Stores deur die skool aangeskaf.

Hart warm

Tydens Kasselsvlei se saalopening op Maandagoggend 15 Julie, het Jade die leerders toegespreek deur te sê: “Vandag is baie spesiaal! Meer as 650 leerders het reënbaadjies ontvang wat só broodnodig is, veral met die afgelope weke se swaar reën wat oor die provinsie heen uitgesak het.”

Sy sê dit was ’n eer om deel te wees van hierdie betekenisvolle projek.

“Dit maak my hart só warm om te sien hoe dit alles so mooi bymekaar gekom het. Ek hoop dat ieder en elke kind wat vandag só ’n reënbaadjie ontvang het, werklik besef en waardeer hoe groot ’n seëning dit is.”

Die twee mense wat die skenking moontlik gemaak het, is Carlo Carnow van Silvertree Tours en Peter van Advanced Automotive Solutions.

“Ons is opreg dankbaar dat julle Kasselsvlei gekies het om ’n verskil te maak. Jul ondersteuning beteken die wêreld vir ons en help om ’n koesterende omgewing te skep waar ons leerders op hul skoolwerk kan fokus. Ons is innig dankbaar vir die goedheid en toewyding aan ons gemeenskap.”

You need to be Logged In to leave a comment.