Die toneelstuk van die Laerskool Durbanville se senior toneelgroep, Die dag toe Willie Wepener skoolhoof geword het, het by die eindstryd van die 2025 ATKV-Tjokkertoneelkompetisie verskeie pryse opgeraap.
Die eindstryd van die ATKV-Toneelkompetisie het van 7 tot 10 Oktober in die Pam Golding Baxter-teater in Rondebosch plaasgevind.
Tydens die toekenningseremonie op 11 Oktober is hierdie toneelstuk vereer vir beste hantering van tegniese aspekte. Christoff Els, as Willie, is as beste akteur aangewys.
Veronica Geldenhuys en Tronéll Lessing is as beste regisseurs aangewys.
Die toneelstuk is ook vir beste produksie genomineer.
Die Laerskool De Hoop met Sjuut! het met die louere weggestap as die nasionale ATKV-Tjokkertoneelwenner van 2025.
Ook die Durbies se junior toneelgroep se toneelstuk Potloodsakkie — agter die zip was een van slegs ses toneelstukke wat aan die eindronde deelgeneem het.
Tjokkers van meer as 200 skole neem deel
Meer as 1 200 magnetiese tjokkers van meer as 200 skole van oor Suid-Afrika heen het vanjaar aan die ATKV-Tjokkertoneelkompetisie deelgeneem.
Die toneelstuk Die dag toe Willie Wepener skoolhoof geword het is ook op 25 September by die eindstryd van Aardklop se Pronk Pret-kompetisie as die wenproduksie aangewys.
Daar is slegs sewe produksies gekeur om aan dié kompetisie se eindronde deel te neem. Christoff Els is ook as beste akteur en Louis Laubscher as beste byspeler aangewys.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV, het tydens die opening van die eindstryd van die ATKV-Toneelkompetisie beklemtoon dat teater ‘n onontbeerlike rol in die samelewing speel.
“Teater is soos ‘n magneet – dit trek ons nader, hou ons vas en laat ons nooit onaangeraak nie. Omdat dit konkreet en visueel ewige waarhede vergestalt, is die voortbestaan van teater uiters belangrik.
“Teater bou op ‘n besondere wyse aan ‘n jong generasie se kultuur en bied ‘n ruimte waar kreatiwiteit en gemeenskapsgees saamvloei,” sê Lemmer.
Bevordering van teaterkuns
Hy het ook die ATKV se rol in die bevordering van teaterkuns onder die jeug beklemtoon.
“Deur die aanbied van Tienertoneel, Tjokkertoneel en Sêr wil die ATKV die verskillende voordele wat teater en musiek inhou, beklemtoon.
“Die kunste verbeter ongetwyfeld individuele welsyn, dit versterk akademiese prestasie en laat kreatiwiteit en vernuwing opvlam. Dit het ‘n positiewe invloed op individuele keuses en aksies en vorm ons praktyke sodat dit in diens staan van ‘n goeie en mooi wêreld.”
Die beoordelaars was Jacques Bessenger, Mari Molefe van Heerden, Solomon Cupido, Marlo Minnaar, dr. Chris Vorster en prof. Marié-Heleen Coetzee. Hulle was dit eens dat die top-14-produksies tydens die eindronde van die ATKV-Toneelkompetisie baanbrekerswerk is.





