KUILSRIVIER: Die Laerskool De Kuilen kan spog met ‘n nasionale kampioen.
Thea Robertson is in die eindronde van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se nasionale redenaarskompetisie, wat verlede week in Goudini plaasgevind het, as wenner bekroon.
Gesogte redenaarsplatform
Sy het deelgeneem in die afdeling vir gr. 6 en 7: Afrikaans Addisionele Taal.
Thea het 23 ander deelnemers in haar afdeling die loef afgesteek in hierdie kompetisie – een van Suid-Afrika se mees gesogte redenaarsplatforms, met streng reëls en gesoute beoordelaars wat op fyn besonderhede let.

Strawwe mededinging
Die vlak van mededinging was besonder straf, met elke deelnemer wat sy of haar onderwerp met deeglike voorbereiding, insig en styl aangebied het.
Thea het die beoordelaars met ‘n vyf minuut lange toespraak beïndruk.
Sy het met oortuiging en duidelike standpunte verduidelik waarom musiek ‘n verpligte skoolvak behoort te wees.
Ná haar toespraak het sy met selfvertroue en insig ‘n vraag van die beoordelaars oor haar onderwerp uit die vuis beantwoord. Dit is gewoonlik die toets wat dikwels die wenner bepaal.
Dryfkrag
Volgens toeskouers het Thea se dryfkrag, deursettingsvermoë en positiewe energie haar uiteindelik van die ander deelnemers onderskei.
Die skool beskou Thea as ‘n rolmodel vir haar medeleerders en is tereg trots op hul “beste redenaar in die land”.






You must be logged in to post a comment.