Laerskool Brackenfell 110 jaar oud

Die Laerskool Brackenfell, wat vanjaar 110 jaar oud is, het ’n beskeie begin gehad.


Die Laerskool Brackenfell, wat vanjaar 110 jaar oud is, het ’n beskeie begin gehad.

Op 22 Januarie 1906 het 18 leerlinge hul skoolloopbaan aan huis van mnr. C.M. Nagel, ’n skoolkomiteelid, in Brackenfell begin.

Daar was nog nie ’n skoolgebou nie, maar daar was wel ’n dringende behoefte om ’n skool in Brackenfell te stig.

Mnr. Jan Odendaal (afgetrede kringbestuurder) het in sy feesboodskap met die skool se 100ste herdenking die volgende geskryf: “Die karakter en waardes van ’n gemeenskap word vergestalt in die kwaliteit van onderrig wat hy aan sy kinders verskaf.”

Mev. A.N. Brink het straks ook 110 jaar terug so gedink toe sy die morg grond waarop die skool gebou moes word, aan die Brackenfell-gemeenskap geskenk het.

’n Mens kan net daaroor wonder, maar die feit bly staan: die Brackenfell-ouers was nog altyd ernstig oor hul eie skoolgeriewe en hul kinders se opvoeding.

Deur saamstaan, saamwerk en saamba-klei slaag die kerk en skoolkomitee daarin om ’n nuwe skoolgebou teen 22 Januarie 1906 in gebruik te neem. Die skool, in Skoolstraat, het R580 gekos en in April 1906 is dit amptelik geopen deur ds. H. van Broekhuizen. Groeipyne was daar natuurlik, waarvan die gehalte van die water die grootste probleem was. In 1912 is ’n sementtenk gebou, maar die water smaak volgens geskiedenisstukke na die bloekomblare wat in die geute geval en bly lê het. Dit was dus ondrinkbaar.

In 1920 word ’n put gegrawe, maar dit los ook nie die probleem op nie. In 1927 word ’n sementtenk met ’n inhoud van 4 000 gelling (18 000 liter) voltooi, maar eers in 1948 word waterpype vanaf die eiendom van ene dr. A. van der Merwe aangebring. Hy voorsien 2 000 gelling water aan die skool per maand teen ’n vergoeding van R24 per jaar.

Die onderwysdepartement het in 1962 ’n bydrae van R1 500 bewillig om die skoolsaal te bou, op die voorwaarde dat die skool die res moet insamel. In 1965 was die departement darem meer genadig en het hulle die bou van die saal befonds.

As gevolg van die snelontwikkelende gemeenskap (Engels en Afrikaans), word die skool in 1964 as ’n sekondêre skool heropen. Aangesien die laerskool so vining groei, besef die departement dat nog ’n laerskool en ’n hoërskool gebou moes word.

En so word Laerskool Brackenfell die moederskool van die Hoërskool Brackenfell (1976) en Laerskool Bastion (1980).

Die skoolhoofde en superintendente bearbei onverpoos in hul soeke om die gebou uit te brei en fasiliteite te verbeter. Die amptelike inwyding van die uitbreidings vind op 23 Maart 1990 plaas. Johan Groenewald (huidige hoof) voeg nog beter fasiliteite by die bestaande en wy die volgende 20 jaar aan die verbetering van die skool se uitnemendheid op alle terreine.

Vandag spog die skool met bykans 1 500 leerlinge en uitstekende geriewe.

Die toekoms het al die vraag beantwoord oor watter eise die volgende 110 jaar aan die skool gestel sal word. Eintlik raak ’n skool nooit oud nie, want hy hernu homself jaarliks met nuwe gesigte, nuwe metodes, nuwe geriewe en nuwe stuurmanne.

You need to be Logged In to leave a comment.