‘Lady’ ry ver paaie: Vrou samel genoeg geld in om vir dogter se oorsese reis

Corné Els saam met Hannes Rheeder Saterdag by haar aankoms in Klumputs.

Credit: SYSTEM

Ná ’n onvergeetlike reis deur die land op die rug van haar kanniedood-veteraantrekkertjie, Lady, ’n 1964- Massey Ferguson 35 Diesel Deluxe, het Corné Els Saterdag in die Kaap aangekom.

Haar avontuur oor 1 764 km het haar van ’n plaas buite Krugersdorp deur vyf provinsies en 24 dorpe geneem, en dit alles om geld in te samel vir haar dogter, Marconette, wat gekies is om in Augustus in Switserland aan die buitelug-toutrek-wêreldtoernooi deel te neem.

Sy en haar man, wat as ondersteuning agterna gery het, het van Gauteng deur Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap tot in die Wes-Kaap gery.

Hannes Rheeder, voorsitter van die WP- Veteraan-trekker- en enjinklub, het haar in Klapmuts gaan verwelkom en die laaste ent van haar rit tot by Babylonstoren-wynlandgoed saam met haar gery. Rheeder het ook ’n skenking van die klub aan haar oorhandig.

“Dit moet die langste rit wees wat enige vrou in Suid-Afrika nog op ’n veteraantrekker aangepak het,” meen Rheeder, wat nou reël dat Corné haar avontuur met lede van die klub in Kraaifontein sal kom deel.

Rheeder sê hy is beïndruk deur die kanniedood-Corné se moed om die tog in wind en weer te voltooi.

“Dit sit nie sommer in enigiemand se skoene om so ver in net 13 dae teen 25 km per uur te ry nie,” sê hy.

Sussie kan gaan

Cornél, wat sedert 2018 in Gordonsbaai woon, is verheug oor die geld wat ingesamel is.

“Sussie kan Switserland toe! Dis nou nie haalbaar vir ons om saam te gaan nie, maar haar droom word verwesenlik,” het sy Maandag aan TygerBurger gesê.

Sy praat met groot vervulling oor haar wedervarings langs die pad.

“Ons het op ’n lekker sonskyndag uit Krugersdorp gery. Ek was angstig op die eerste dag en het gevrees dat iets dalk met Lady se enjin verkeerd kan loop. Maar sy het nie teleurgestel nie, en hoe verder ek gery het, hoe meer gemoedsrus het ek gekry,” sê sy.

Corné Els op haar tog van Gauteng tot in die Kaap.

Tussen Wolmaransstad en Schweizer-Reneke het sy egter ’n pap wiel gekry as gevolg van die slegte pad.

“Daar was nie eens ’n pad nie, net potholes – selfs op die rand van die pad. Die pad was sleg en het alles in die trekker losgeskud. Die inwoners van die dorp was dadelik daar om te help om die wiel reg te maak.

“In die begin het die trokke verby my gejaag en dit was skrikwekkend, maar ná al die media-aandag het hulle so op dag sewe stadiger verby my gery en gewaai en die toeter gedruk.”

Reën wag hulle in

Kimberley se kant toe het dit begin koud word en in die Karoo aangekom het die reën hulle ingewag.

“Ek het nog nooit so baie water in die Karoo gesien nie. Dit was ’n belewenis om te sien hoe die stroompies loop.”

In die Karoo, sê sy, het mense hulle op elke dorp ingewag en sommer afgetrek om ’n skenking in die hand te stop en ’n bietjie te gesels.

“Dit was heerlik om na almal se stories te luister. Een tannie, wat ouer as 90 is, het my vertel van haar jong dae op die plaas waar hulle ook só trekkertjie gehad het.”

Dit was ’n mistige oggend toe Corné by Van Rhynspas aangekom het.

“Ek kon nie ver voor my sien nie en was baie senuweeagtig. Dit is seker ’n goeie ding dat ek nie kon sien hoe hoog dit is nie,” sê sy.

“Wat ook vir my bitter mooi was, was die landskappe van Namakwaland en die deel deur Porterville tot in Wellington. Ons bly in ’n ongelooflik mooi land met baie hartlike mense.”

Dit was ook ’n sentimentale rit vir haar.

“Toe ons Kaap toe verhuis het, wou ons so graag ons trekker saambring, en nou is sy hier. Wat dit vir my so merkwaardig maak, is dat ek net opgeklim en gery het nadat sy vyf jaar lank gestaan het. Sy het die Kaap gehaal met net drie silinders en drie ratte,” sê Corné.

Meer as die skoonheid van die natuur was dit die mense wat haar die meeste aangeraak het.

“Die menslikheid en almal se hartlikheid het my gewys hoeveel hoop daar nog in die land en vir die land is.

“Ek is orals begroet met glimlaggende gesigte van mense wat net wil leef en daar wees vir mekaar.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article