Die Poggenpoel-gesin se wendyhuis het inmekaar getuimel.


’n Ma van Ravensmead sit met haar hande in die hare nadat die wendyhuis waarin sy, haar man en vier kinders woon vanoggend omstreeks 05:00 deur stormwinde wat tans woed, platgewaai is.

Shireen Poggenpoel sê hulle kon beddens, ‘n stoof en ‘n paar ander goed red, maar die res is verwoes toe die huis ineengestort het. “Gister reeds het die wendy begin lek en my man het gesê hy dink dit wankel nou te veel, toe het hy en my neef begin om die beddens in te dra. Ons het in die hoofhuis in die voorkamer geslaap toe die hele struktuur vanoggend met ‘n knal ineenstort,” sê Poggenpoel.

Poggenpoel se vier kinders is onder meer 16, 13 en ‘n tienjarige tweeling. “My kinders kan nie skool toe gaan nie, want hul klere lê nog onder die puin. As iemand ons kan help, sal ek dit baie waardeer. Een is in die  Hoërskool Symphony en die ander in die Laerskool Vorentoe. Ons het ook dringend beddens en boumateriaal nodig,” sê Poggenpoel.

Sy sê hulle is net dankbaar hulle was nie in die wendy toe dit omgewaai het nie. “Die Here het ons beskerm.”

  • Indien daar mense is wat die Poggenpoels wil help, skakel 083 654 0402 of laai skenkings af by Negendelaan 2 in Ravensmead.

You need to be Logged In to leave a comment.