Liezl Rogers, ’n inwoner van Fisherstraat, Goodwood, het op Saterdag 30 November voor in haar erf rondgestaan – wat sy nie gereeld doen nie.
Maar dié dag was anders. “Ek weet nie hoekom nie, maar iets het vir my gesê ek moet opkyk, hek toe,” vertel Rogers.
Toe sy opkyk, sien sy dit. ’n Boomslang, koel en kalm teen die hek.
Vir ’n oomblik was daar stilte, en toe verbreek Rogers die stilte met ’n gil wat volgens haar “die hele buurt laat uitstorm het”.
Rogers, wat haar ontdekking as “die vreemdste ding onder die son” beskryf, het dadelik ’n slangvanger in Wellington gebel. Die slangvanger kon haar ongelukkig nie help nie, maar het haar na iemand anders verwys. Intussen het sy op plaaslike gemeenskapsgroepe hulp gevra en uiteindelik Giniel Cornelissen opgespoor.
Cornelissen het vinnig opgedaag, maar die vang van die boomslang was geen maklike taak nie. “Ons het vir drie ure probeer,” sê Rogers.
Intussen het sy haar honde dopgehou, doodbenoud dat hulle dalk deur die giftige reptiel aangeval sou word.
Uiteindelik het Cornelissen die slang suksesvol gevang. Rogers voel steeds dankbaar dat haar honde veilig gebly het.
“Dit was soos ’n guardian angel wat almal veilig gehou het,” sê sy met ’n sug van verligting.Waar die boomslang vandaan gekom het, bly egter ’n raaisel. Rogers en die buurt wonder of dit dalk iemand se ontsnapte troeteldier was of moontlik op ’n vragmotor gereis het. “Dis baie ongewoon om ’n boomslang hier te kry,” sê Rogers.
Die slangvanger het bevestig dat die boomslang veilig in ’n natuurreservaat vrygelaat is.


