Plakkers is langs die N1 verwyder.

Nielen de Klerk

Beddegoed, besittings en klere het die wêreld vol gelê toe tientalle mense vanmiddag (6 September) langs die N1 in Bellville verwyder is.

Die uitsetting volg op ‘n hofbevel wat vroeër uitgereik is. 

Talle lede verbonde aan die Bellville-polisiekantoor en wetstoepassingbeamptes was op die toneel waar sowat 20 strukture langs die spruit by die gholfklub op Carl Cronje-rylaan verwyder is.

“Ons het bevind dat daar toenemend plakkers op die stuk grond skuiling vind. Daar is geen ablusie-fasiliteite nie, en ons het ook bevind dat die kriminele aktiwiteit in die omgewing vir seker in die teenwoordigheid van die plakkers, toeneem,” het Fienie Nimb, Bellville-polisie se woordvoerder, vroeër vandag aan die TygerBurger bevestig.

Volgens die hofbevel wat TygerBurger onder oë gehad het, was die hofdokument Dinsdag 6 Augustus deur ’n hoofregter van die Wes-Kaapse-hooggeregshof, goedgekeur.

Jannie Bezuidenhout, adjunk-balju van Bellville, het op die toneel vertel dat vanmiddag se uitsetting volg na ‘n lang geveg.

“Daar was aan die respondente ’n keuse gebied om vrywillig te trek, of nie, maar daar was nie aan enige vorige hofdokument wat voorheen aan hulle oorgahndig is, gehoor gegee nie.”

Bezuidenhout sê die operasie het heel glad verloop. Maar vir diegene wat moes toekyk hoe hul sturkture platgeslaan word, bly dit maar ‘n bitter saak. “Ek woon al 11 jaar hier,” vertel een van die plakkers wat as houtkapper sy brood en botter verdien, Eldon Mordray, wat oorspronklik van Uitenhage in die Oos-Kaap, afkomstig is.

“Ons word vandag weer hier uitgajaag. Dit is nou maar die lewe en ons moet nou weer ander skuilplek vind.”

Hy is nie seker waarheen hy vandaar sal gaan nie, “die shelters is vol. Hulle maak klomp beloftes, maar daar is net geen heenkome vir ons nie.”

Lede van die Boston-gemeenskapsverbetering-distrik (CID), sowel as die Boston-buurtwag het deur die loop van die dag bystand gebied.

Plakkers N1

Plakkers is langs die N1 verwyder.

’n Inskrywing op die Boston CID se Facebook blad, het inwoners oor die volgende gewaarsku: “Bly asseblief waaksaam gedurende hierdie tyd. Daar is ‘n moontlikheid dat individue na Boston kan intrek of nuwe strukture in die gebied kan vestig. Indien u enige ongemagtigde of verdagte aktiwiteit opmerk, rapporteer dit asseblief onmiddellik deur middel van ‘n C3 en by-wetstoepassing om ‘n tydige reaksie te verseker.” 

Inwoners wat enige verdagte aktiwiteit in hul omweging oplet, word aangeraai om 021 480 7700 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.