Sy menswees is herroep, trane is afgevee en alkoholvrye Savana is op Donderdag 8 Mei geklink ter nagedagtenis aan Ruben Louw van Rooyen (18) se liefde vir sy taal en skool, met die Hoërskool DF Malan se amptelike opening van hul Afrikaans-tuin.
Nog méér spesiaal is die RVR DF-tuinklub, in samewerking met Lorinda Smit – Ruben se “tuintannie”, amptelik in sy naam gestig. Dié tuin is simbolies van sy blywende impak op die gemeenskap, medeleerders en toekomstige generasies.

“Die uitwerking wat die mens Ruben op die gemeenskap gehad het, is onbeskryflik en elkeen wat hom geken het, voel ‘n intense gemis aan die groot glimlag, die wysheid van ’18 going on 80’ en die grasie waarmee hy die lewe aangepak het,” deel Smit.
Stryd in verlossing oorwin
Ruben is op Woensdag 19 Maart in sy ouerhuis oorlede ná ‘n jare lange stryd om sy lewe teen kanker.
Dit nadat alveolêre rabdomiosarkoom, ‘n seldsame en aggressiewe kanker, op 10 November 2022 by hom gediagnoseer is.
Hy het aan die begin van die jaar ‘n operasie in die Christiaan Barnard-hospitaal ondergaan om die kanker te verwyder. Aanvanklik was hy daarna kankervry, maar komplikasies het egter sy lewe geëis.
Smit onthou die tyd wat sy en Ruben mekaar leer ken het nog goed. Om sy liefde vir biologie en die natuur te bevestig, het hy baie lief geword vir tuinmaak en gereeld Smit se raad gevra.
“My belofte aan Ruben was dat ek ‘n tuinklub by DF Malan sal stig en dat ek als wat ons sou doen ten uitvoer sal bring. Ek het die RVR DF-tuinklub gestig en vir Ruben ‘n gedenktuin van die oorspronklike voortuin geskep.”
Afrikaans 100
Die opening van die tuin is ook saam met Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal gevier.
Die huldeblyk van Magda Thiart, DF Malan se Afrikaans-vakhoof, lui: “Ludwig-rose het 10 jaar terug die Afrikaans-roos geskep ter viering van die 90ste bestaansjaar van Afrikaans. Om Afrikaans 100 te vier het Lorinda Smit ‘n pragtige Afrikaanse tuin geskep met 10 Afrikaans-roosbome as deel van die RVR-gedenktuin. Dis ‘n pragtige oranje roos wat, as dit blom, ‘n besondere prentjie by Ruben se bankie gaan vorm.”
‘n Bankie gedoop Ruben’s Rest is teen ‘n helder lig vir beligting na ure in dié voortuin geplant.
Nog ‘n Afrikaans-onnie, Gert Visser, het grappenderwys getuig van hoe Ruben sy gr.10- en matriekklasse kom “omverwerp en lastig geval” het, toe hy weens omstandighede in die meneer se klas moes toets skryf.
‘Van voor af leer bid’
Maar Visser het uiteindelik ‘n huldeblyk aan Ruben se ouers, Mari en Ryno, opgedra.
“Dit was asof julle twee altyd eerste aan ander gedink het. Julle het, met die groep mense wat op WhatsApp saam gevolg het, saam gebid. Julle het daarin geslaag om ons almal van voor af te leer bid. Gebed gaan nie net oor die verander van uitkomste nie; dit gaan oor liefde, hoop en ondersteuning.”
Ruben word bowendien onthou as ‘n entoesiastiese leerder wat al sy wakker ure by die skool wou spandeer. Weens sy stryd teen kanker is ses jaar van sy skoolloopbaan egter onderbreek.
“Die laaste keer wat hy sy skooluniform aangetrek het, het hy my nog gesê: ‘Mamma, ek hou baie daarvan; dit voel soos gesond wees’,” deel sy ma, Mari, met TygerBurger.
Dit was vir haar ‘n eer en voorreg om vir 18 jaar, en die res van haar lewe, Ruben haar seuntjie te noem.

Ruben leef voort
Ruben was baie aanpasbaar sê sy.
“Hy was kreatief. Hy het in sy laaste dae leer tuinmaak vanweë ‘n verlange na sy biologieklas. Hy het ook leer naaldwerk doen deur ‘n broek te maak, en het groot planne met naaldwerk gehad. So Ruben het ons geleer om aan te hou maniere soek om te lewe.
“Hierdie tuin was een van die planne wat hy saam met Lorinda gehad het vir die skool. Hy wou graag hê sy maats moes daarvan leer. Hierdie (tuin) was vir ons die grootste geskenk – om vir ons ‘n lewende stukkie van sy lewe te gee – by sy gunstelingplek, skool!”

Tobey Smit, die RVR-tuinklub se voorsitter en een van Ruben se beste maats, voeg by: “Ons het hierdie tuin geskep vir hom, sodat hy kan voortleef by sy gunstelingplek. Dit is hoe ons liefde aan hom wil betoon. Hy het ‘n groot liefde vir plante gehad, soveel so dat hy my gedwing het om my eie by die huis te hê. Hy was baie na aan ons almal en het ons baie geliefd laat voel. Hy was baie mense se beste maat.”
You must be logged in to post a comment.