WAARSKUWING: DIE BEELDMATERIAAL MAG SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL.
´n Bekende TikToker en sake-eienaar van Plattekloof het Dinsdag 21 Januarie in die Bellville-landdroshof verskyn nadat hy glo sy vrou aangerand het.
Die beskuldigde, Christiaan van der Merwe (34), is steeds in aanhouding ná sy eerste hofverskyning.
Hy staar verskeie klagte in die gesig insluitende drie aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, en twee aanklagte van algemene aanranding. Dit volg nadat hy glo sy vrou aangerand het. Die voorval is op kringtelevisie vasgevang en is wyd oor sosiale media versprei.
Anelisiwe Manyana van die Wes-Kaapse polisie het bevestig dat die individu in hegtenis geneem is, en dat die persoon in die Bellville-landdroshof verskyn het vir sake wat verband hou met huishoudelike geweld en die oortreding van´n hofbevel. Verdere navrae is egter na die Parow-polisiestasie se bevelvoerder en skakelbeampte verwys.
´n Aanlyn-petisie is ook reeds begin om Van der Merwe in aanhouding te hou. Die petisie is op change.org beskikbaar en het sover 3 342 hantekeninge ingesamel sedert dit op Woensdag 15 Januarie begin is. Die petisie beoog om 5 000 handtekeninge te bereik.
Hy verskyn Donderdag 23 Januarie weer in Hof E vir sy borgtogaansoek.