’n Liggaam wat vanoggend (Maandag 22 Julie) deur die Stad se brandweerdienste gevind is, blyk wel dié te wees van Theodore Brinkhuys (31) van Kalkfontein wat verlede Donderdag (18 Julie) ten tyde van ongure weer in die sterk vloeiende kanaal in Kuilsrivier beland het.
AO Liesel Beukes, plaaslik polisiewoordvoerder, sê ’n reddingspan van die brandweer het om 11:37 op die liggaam in die kanaal agter Riverside Gardens en naby aan die Stellenbosch-hoofverkeersweg, afgekom.
Sy het bevestig dat ’n geregtelike doodsondersoek geopen is. “Familie van die afgestorwene wat op die toneel was, het bevestig dat die liggaam dié van die vermiste man is,” sê Beukes.
Theo Brinkhuys wou blykbaar die laagwaterbruggie vir voetgangers tussen Gersham en Kalkfontein oorsteek toe hy in die water beland het.
Eshleen Daniels, ’n niggie van Theo, het Vrydag tydens die soektog na haar neef vertel die voorval moes Donderdag kort voor 11:00 gebeur het omdat sy kort daarna ’n oproep van ’n vrou ontvang het wat naby die kanaal was toe Theo meegesleur is.
Die water het ten tyde van die voorval blykbaar tot bo-oor die bruggie gevloei. Theo het ná bewering sy kop gestamp nadat hy geval het en is toe deur die sterk stroom meegesleur.
Lees meer: Man wat in Kuilsrivier-kanaal beland het steeds soek
Beukes het Vrydag aan TygerBurger gesê volgens ’n ooggetuie wou die vermiste (Theo) waarskynlik net die kanaal oorsteek toe hy geval, sy kop gestamp het, en toe stroomaf meegevoer is.
Beukes het toe bevestig die polisie se duikeenheid het Donderdagmiddag reeds uitgekom, maar die duikers was nie in die water nie omdat die stroom te sterk was. Die voorval is toe reeds ondersoek, maar geen dossier is aanvanklik oopgemaak nie omdat daar toe nog na ’n liggaam gesoek is.
Ebrahim Sawant, wyksraadslid, het Vrydagoggend tydens die soektog naby die Riverside Gardens-brug vertel dat die watervlak Donderdag ook tot net-net bo-oor hierdie brug, wat ’n hele paar honderd meter stroomaf van die voetgangerbrug is, gestyg het. Volgens Sawant is ’n skoen en ’n baadjie van Theo Donderdag gevind.
Sawant het Donderdagmiddag ’n boodskap uitgestuur dat die polisieduikers eers die soektog vir hul eie veiligheid Vrydagoggend sou voortsit.
Theo se ma, Charlotte Brinkhuys, het Vrydag kort nadat polisieduikers met ’n bootjie die gedeelte van die kanaal tussen die Riverside Gardens-brug en die Stellenbosch-hoofverkeersweg begin fynkam het, langs die kanaal kom staan en wag op nuus oor haar seun.
Soektog
Daniels het Vrydagmiddag laat gesê ’n hommeltuig is die middag ingespan om met die soektog te help, maar die poging is gou opgeskort omdat die wind te sterk was. Sy het later laat weet dat ‘n soek-en-reddingspan van die brandweer Vrydagmiddag kom help soek het.
Die soektog het oor die naweek voortgeduur met onder meer ’n polisiehelikopter wat ingespan is.
JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het gesê beamptes van die Kuilsrivier-brandweer het die liggaam Maandagoggend gevind waarna die polisie in kennis gestel is om die leiding te neem.
Smith het gesê die Stad het hul brandweer en nooddienste, sowel as wetstoepassing se mariene-en-omgewingsake-eenheid, asook ’n hommeltuig beskikbaar gestel om met die soektog te help.
Hy het almal bedank wat oor vier dae met die soektog gehelp het. “Hierdie was die tweede voorval van die aard binne die bestek van ’n week terwyl Kaapstad onder die impak van ongure weer gebuk gegaan het.”
Smith het gemaan mense moet voortdurend uiters versigtig rondom waterweë wees aangesien watervlakke waarskynlik nog geruime tyd hoog sal wees.