Die Springbok en oud-Brakkie Cheslin Kolbe het Sondag in ’n hartroerende boodskap uit Frankryk ná hul segetog die Springbokke se wen aan sy alma mater die Hoërskool Brackenfell opgedra.
In die videoboodskap waarin hy die Web Ellis-beker vashou, bedank hy die skool vir aanmoediging en ondersteuning tydens die Rugby-wêreldbekertoernooi.
“Hierdie is vir julle. Dankie vir die ondersteuning en die vyf wonderlike jare by die skool. Was dit nie vir dié skool nie sou ek nie die mens gewees het wat ek vandag is nie. Vir elke liewe Brackie sê ek dankie.”
Die skoolhoof, Jannie Muller, het Vrydag (27 Oktober) vir Kolbe en die Springbokspan sterkte toegewens tydens ’n optog waaraan sowat 3000 skoolkinders in Brackenfell Boulevard deelgeneem het. “Ons Springbokke en Cheslin, ons is ongelooflik trots op julle… ons land se gees is groot, ons het dit nodig,” het Muller gesê.
Kolbe, wat ook Saterdag sy 30ste verjaarsdag gevier het, was soos altyd instrumenteel in die Bokke se sege en hoewel hy nie ‘n drie gedruk het nie was sy verdediging uitsonderlik. Nadat Rieko Ioane deur sy spanmaat Kurt-Lee Arendse gelak is, het Kolbe seker gemaak die All Blacks se ondersteunende spelers kry nie die bal nie en op dié manier het hy ‘n wedstrydbepalende drie verhoed.
Hy is kort voor die einde ‘n geelkaart gewys en moes die laaste gedeelte van die wedstryd op die kantlyn deurbring, van waar hy skaars kon kyk hoe sy spanmaats die wa deur die drif trek.
Die Springbokke het die eindstryd met 12-11 gewen.