Kyk | Goodwood-vrou se vinnige denke verhoed rooftog

, ,

’n Dapper vrou in Goodwood het haar selfoon gered deur dit oor ’n muur te gooi toe twee gewapende mans haar probeer beroof. Kyk die dramatiese video.

'n Skermgreep uit die video van waar die vrou amper beroof is.

‘n Video wat soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei het, wys ‘n ontstellende toneel wat in Goodwood afgespeel het.

In die video word ‘n vrou gesien wat rustig in die straat loop, klaarblyklik met haar selfoon in haar hand. Skielik stop ‘n wit bakkie langs haar en twee mans met wapens spring uit — vermoedelik met die doel om haar te beroof.

Maar, wat daarna gebeur het, het kykers laat regop sit. Die vrou, duidelik wakker en bewus van haar omgewing, gooi haar selfoon oor ‘n muur in iemand se erf. Vermoedelik in ‘n poging om dit teen die verdagtes te beskerm. Die mans spring weer terug in die voertuig en ry weg, sonder die buit waarop hulle gehoop het.

Video

Volgens Goodwood Armed Patrols het ‘n areabestuurder, terwyl hy op patrollie in Ruyterwacht was, inligting van Ruyterwacht Safety Watch ontvang oor ‘n gesoekte voertuig in die gebied. Die insittendes was glo betrokke by ‘n poging tot roof — dié wat ooreenstem met die voorval op die video.

Verdagtes is gevang

Die reaksiebeampte Fortuin, skofbestuurder Bruiners, areabestuurder Matthew en lede van die polisie het vinnig opgetree en die verdagtes is aangekeer.

Hulle is na die Parow-polisie geneem vir verdere ondersoek.

Kol. Shaun van Wyk, bevelvoerder van die Goodwood-polisie, sê hoewel daar by die Goodwood-polisie geen formele klagte oor die voorval ingedien is nie, neem hulle die saak ernstig op.

‘Hou selfone uit sig’

Hy het ‘n beroep op die publiek gedoen om waaksaam te wees en nie met waardevolle artikels soos selfone sigbaar in openbare ruimtes rond te loop nie.

“Ons versoek mense om hul besittings diskreet te dra, want dit verminder die risiko om deur misdadigers geteiken te word,” het hy gesê. “Waardevolle artikels moedig misdadigers aan,” meen Van Wyk.

“Ons is egter bly dat die vrou in die video nie beseer is nie en ons beskou haar optrede as wakker én braaf,” sê Van Wyk.

Goodwood Armed Patrols het die vermeende verdagtes vasgetrek.
Goodwood Armed Patrols het die vermeende verdagtes vasgetrek.

LEES OOK: Hartlyer erg in Goodwood aangerand

You need to be Logged In to leave a comment.