Die Hoërskool Durbanville se Durbiebond het Maandag sy Gastronomica-kosgeleentheid, wat op Woensdag 15 Oktober by die skool met die tema “Pink Street soirée” plaasvind, by die Chocolat Bistro in Durbanville bekendgestel.
By hierdie geleentheid, wat plaaslike fynproewers nie durf misloop nie, sal die omgewing se voorste sjefs hul gaste met uitsonderlike kookkuns bederf.
Die deelnemende sjefs en hul spanne sluit in Salt van Waterford Estate, The Farm Eatery @ Diemersdal, Asador, Ashley Dokter Mosoth, Chocolat Bistro, Wilde Vy Bistro, die International Hotel School, Hussar Grill Durbanville, en Cape Point Vineyards.
Unieke styl
Elke deelnemende restaurant sal ‘n spesiale viergangmaaltyd voorberei, wat hul unieke styl uitbeeld met die aand se tema as riglyn.
Die veteraanorganiseerder Alewijn Dippenaar het tydens die bekendstellingsgeleentheid verduidelik dat “gastronomica”gesien kan word as “die kuns en kennis van die uitkies van produkte vir die voorbereiding van fynproewerkos”. Die Franse woord “soirée” verwys na ‘n elegante aandjie uit.
Rua Nova do Carvalho, ook bekend as “Pink Street”” in Lissabon, Portugal, is ‘n voetgangerstraat in die stad se Cais do Sodré-buurt, bekend vir sy naglewe, kroeë, klubs en eetplekke. Die straat was oorspronklik berug as ‘n rooiligdistrik waar matrose en vroue van die nag sou skouerskuur, maar is in 2013 opgekikker met helder pienk plaveisel en dosyne sambreeltjies wat oorhoofs pryk – nou ‘n trekpleister vir toeriste. Die straat is deur die New York Times aangewys het as een van Europa se 12 gewildste strate.
Fondsinsamelingsprojek
Die geleentheid is ‘n fondinsamelingsprojek van die Durbiebond, wat in September 2021 gestig is vir die vestiging en uitbreiding van ’n netwerk van oudleerders, ouers, ondersteuners en vriende van die skool en verwante organisasies. Die handelsvennoot van die geleentheid is die Durbanville-Sakekamer, wat ten doen het om plaaslike besighede te bemagtig deur gereelde netwerkgeleenthede aan te bied.
Merl Theunissen Interiors sorg vir die kreatiewe omskepping van die HSD-ouditorium, terwyl Durbanville Wynvallei en Viljoen Juweliers verder gaan bydra tot die aand se onvergeetlikheid.
. Beperkte kaartjies is beskikbaar teen R15 000 per tafel van 10 gaste is beskikbaar by Mimi Finestone by 084 583 3144 of mimi@gojipr.net.




















You must be logged in to post a comment.