Benescke Janse van Rensburg, ’n bekende spreker, omroeper by Radio Tygerberg 104FM en skrywer van verskeie topverkoperboeke insluitende God is steeds God en God was Daar, is terug met ’n splinternuwe boek, God Kan Wanneer Ons Bid – 40 krag-gebede vir ons kinders en kleinkinders.
Die boek is só saamgestel dat ouers en grootouers vir 40 dae lank vir verskillende aspekte van hul nageslag kan bid.“Dit was ’n tweejaarprojek,” onthul Benescke oor die navorsingstyd van die boek.
Sy voeg by: “Ek wou bepaal of gebed regtig werk en indien wel, waarvoor ons vir ons kinders kan bid. Ek was verstom om die getuienisse te hoor.”
In haar nuutste boek deel sy haar bevindings en ook 40 kerngebiede waarvoor ouers vir hul kinders kan bid.
Sy deel ook meer as 80 hedendaagse geloofstories uit die onderhoude wat sy met ouers in hierdie tyd gedoen het, wat bewys dat gebed werk.
Die getuienisse in die boek sluit in bonatuurlike beskerming, genesing en bonatuurlike guns en deurbrake, maar ook dat God daar was toe dinge dalk nie noodwendig vir ouers uitgewerk het soos wat hulle gehoop het nie.
Van die stories in die boek sluit in: Alicia Lamprecht, ’n ma wie se sewe maande oue baba in haar gekaapte voertuig was toe die kaper daarmee wegjaag en hoe hulle hul kind “bonatuurlik” teruggekry het; Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van die Bloudrukgroep, vertel hoe hul seun by die dood gaan draai het toe lewensgevaarlike bloedklonte by hom gediagnoseer is; en ’n ma op die Kaapse Vlakte vertel hoe haar kind uit die kloue van bendes gered is – alles deur gebed.
“Die getuienisse is só gekies dat ouers kan weet geen gebed is ooit te groot of te onbelangrik vir God wanneer dit by ons kinders kom nie,” sê Benescke.
Hoewel die boek God kan wanneer ons bid só saamgestel is dat jy vir 40 dae lank vir jou kinders of kleinkinders kan bid, is Benescke se hoop dat gebed vir ons nageslag ’n leefstyl word.
“Ek hoop ouers sal besef dat gebed vir ons kinders werklik ons grootste nalatenskap vir hulle is.”
- Die boek is in Afrikaans, sowel as Engels, God Can When We Pray, by https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ asook by toonaangewende boekwinkels landwyd te koop.