Die outydse ploeg in die tuin is ‘n herinnering aan die impak wat landbou op ons veld het.

Heleen Boshoff

Op ’n koel lente-oggend (Woensdag 4 September) het Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, en die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, Patricia van der Ross, die Majik-woud se Renosterveldtuin in Durbanville amptelik geopen.

Hill-Lewis het al die mense en vrywilligers wat hul hande vuilgemaak het vir die projek, hartlik bedank vir die bewaringswaarde wat hulle deur dié Renosterveldtuin toegevoeg het.

“Honderde jare gelede, voordat Kaapstad so ’n groot en bedrywige stad was, sou ‘n groot deel van dié landmassa bedek gewees het met fauna en flora wat ‘n bietjie soos hierdie lyk, en natuurlik baie meer fynbos,” vertel Hill-Lewis.

Majik-woud

Altesaam 20 wildeolyfbome- en perskebome is na die opening langs die Renosterveldtuin in die Majik-woud geplant. Van der Ross (links) en Hill-Lewis (regs) het ook skouer aan die wiel gesit om die bome te help plant.

“En wild van baie uiteenlopende soorte sou daaraan gesmul het, waarvan die meeste ongelukkig nie meer in ons stad bestaan nie, sowel as die plantspesies in al hul verskeidenheid.”

Belangrikheid van bewaring

Daarom is dit so belangrik, meen Hill-Lewis, “dat ons op enige moontlike manier aktief na geleenthede soek om daardie diversiteit van wild te koester en dit vir toekomstige geslagte Kapenaars te beskerm”.

Majik-woud is ’n bewaringsgebied en dit stel die Stad Kaapstad se departement van ontspanning en parke in staat om die terrein as ’n sensitiewe natuurlike stelsel te bestuur.

Die tuin vertoon die skoonheid en diversiteit van die inheemse Swartland Skalierenosterveld, ‘n bedreigde plantegroeitipe wat grootliks uit die gebied verdwyn het weens landbou- en stedelike ontwikkeling.

Die Renosterveldtuin is met ’n verskeidenheid bolplante en fynbos beplant, vol voedingswaarde vir sonvoëls, skoenlappers en bye.

Majik-woud

Die Renosterveldtuin is amptelik Woensdag 4 September geopen. Van links staan Alex Lansdowne, Ashton Mouton (Ontspanning en parke), burgemeester Geordin Hill-Lewis, Andre Venter (WSSP), wyksraadslid Ronel Viljoen, Sihle Jonas, Willem Myburgh (Ontspanning en parke), Anel Botha (WSSP), en burgemeesterskomiteelid Patricia Van Der Ross.

Soos die burgemeester met sy hand na die pragtige Renosterveldtuin beduie, voeg hy by: “Oor die afgelope maande wanneer ek saam met my vrou en dogter oor naweke hier kom kuier, het ek gesien hoe dit stadig maar seker vorder. Ek onthou toe net hoe hierdie mure gebou is, en dit sal lekker wees om van die simboliek te hoor van hierdie mure wat so tussen deur die tuintjie staan.”

In samewerking met die Stad is die Renosterveldtuin ontwikkel deur die Wildflower Stepping Stones Project Group (WSSP), ‘n plaaslike groep wat toegewy is aan die bewaring van plaaslik inheemse veldblomme om habitatfragmentasie te bekamp.

Simboliek van Renosterveld vertoon

‘n WSSP-vrywilliger, Dalena Theron, het aan TygerBurger die simboliek van die muurtjies in die tuin verduidelik.

“Hierdie mure is simbolies van die heuweltjies, oftewel termietneste, wat destyds die veld vol gestaan het.“

Die patroon wat langs die kant uitgekerf is, verteenwoordig die trekkers en ploeë wat deur eeue se ontwikkeling die renosterveld uitgeroei het tot só ‘n mate dat daar vandag minder as 5% oor is.

”Dié heuweltjies is die kenmerkende sirkelvormige kolle in die veld wat die Tygerberg sy naam gee.

“Die outydse ploeg in die tuin is ‘n herinnering aan die impak wat landbou op ons veld het. Indien daar nie verantwoordelik geboer word nie, word ekosisteme en biodiversiteit ongelukkig vernietig.”

Die tuin is ontwerp en geskep deur die wêreldbekende landskapontwerper Leon Kluge en die kunstenaar Tristan Woudberg (wat onlangs ‘n goue medalje vir Suid-Afrika by die Chelsea-blommeskou verower het), in samewerking met WSSP en die departement ontspanning en parke.

Toekomstige generasies

Van der Ross het op haar beurt aan al die vennote gesê: “Hierdie tuin wys hoe belangrik samewerking met openbare entiteite en vriendegroepe, soos WSSP, is.

“Hulle poog om openbare oop ruimtes te verbeter deur kreatiewe denke wat kan lei tot die verbetering van natuurlike landskappe binne die stad, en terselfdertyd ’n ruimte te skep vir mense om te leer en ons pragtige biodiversiteit te geniet,” het Van der Ross afgesluit.

Die skepping van die Renosterveldtuin stel die publiek in staat om te leer en interaksie te hê met verskeie ikoniese plantspesies wat in die historiese plantegroei van die Groter Tygerbergheuwels voorkom en die passievolle mense wat hierdie kritiek bedreigde plantegroeisoort wil herstel.

Altesaam 20 wildeolyfbome en -perskebome is naby die opening langs die Renosterveldtuin in die Majik-woud geplant.

You need to be Logged In to leave a comment.