Open Studios 2025 bied unieke geleentheid om oorspronklike kunswerke teen studiepryse te koop.

Op Saterdag 6 Desember sal Boston Studio in Bellville weer sy deure vir kunsliefhebbers open wanneer Boston Open Studios 2025 van 09:00 tot 17:00 plaasvind. Die jaarlikse gebeurtenis, wat as ‘n hoogtepunt beskou word, bied besoekers die seldsame geleentheid om kunstenaars in hul kreatiewe ruimtes te ontmoet en oorspronklike kunswerke teen goeie pryse — dikwels 30 tot 60% laer as galerypryse — te koop.

Vanjaar is ‘n oorgangsfase vir die gewilde gebeurtenis. Die stigters, Laurette de Jager en Ilse Nieman, wat die inisiatief jare gelede van stapel gestuur het, tree ná vanjaar se weergawe af.

Die leierstokkie word dan aan ‘n nuwe komitee, bestaande uit Annehette Troost, Adele Helfrich en Jacques Kannemeyer oorhandig. “Ons is trots op wat ons bereik het en opgewonde oor die toekoms onder nuwe leierskap,” sê De Jager.

Byna 30 kunstenaars

Vanjaar sal 29 kunstenaars van verskillende dissiplines hul studio’s in die gebied oopmaak wat begrens word deur die N1, Voortrekkerweg, Durbanweg en Mike Pienaar-boulevard.

Die deelnemers sluit in visuele kunstenaars Hugo de Villiers en Jacques Kannemeyer, asook verskeie ander gevestigde kunstenaars.

Die fotograwe is Hendre Louw en Amy Krause, terwyl die keramiekkunstenaars Karen Kotze en Trudy Oosthuizen ook gaan uitstal.

Dan is daar ook die ontwerpers Karla Louw, Annette Oosthuizen, Terice Louw en Marinda Lindeque, asookskrywer Mareli Smit en wynmaker Pieter de Waal.

Spesiale uitstalling vir goeie doel

‘n Opwindende nuwe toevoeging vanjaar is die Thinking Rabbits-uitstalling in vennootskap met The Thinking Fund (TTF).

Die uitstalling sal sy debuut by die Open Studios maak voordat dit op 13 Desember na die Candice Berman-galery verhuis, gevolg deur ‘n aanlyn liefdadigheidsveiling.

Opbrengste sal beurse en vaardigheidsontwikkelingsprogramme ondersteun, wat die volgende generasie se talent sal help bevorder.

Besoekers kan die dag na hartelus geniet deur van studio tot studio te beweeg, kunstenaars in aksie te sien, en unieke stukke vir hul eie versamelings te koop.

Dit is gratis en oop vir die publiek.

You need to be Logged In to leave a comment.