Die art.b Gallery in Bellville is verheug om die opening van The Ephemeral Nature of Things, ‘n uitstalling deur Laurette de Jager, aan te kondig. Die uitstalling open op Saterdag 5 April en is die eerste in ‘n reeks uitstallings wat deel vorm van De Jager se doktorsgraad in visuele kuns aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).

De Jager se jare lange mentor, dr. Gregory Kerr, open die uitstalling.

The Ephemeral Nature of Things is De Jager se artistieke dokumentasie van haar praktyk as hanteringstrategie vir solastalgia en klimaatverlies, uitgebeeld as ‘n foto-samestelling en skilderkuns. Solastalgia, ‘n nuutskepping waarmee Glen Albrecht in 2007 vorendag gekom het, beskryf die diepgaande trauma wat ontstaan wanneer iemand se omgewing verander of bedreig word. Die verwonding wat veroorsaak word, kan tot gevoelens van verlies en magteloosheid lei. Dit oorskry blote nostalgie en omhels ‘n diep emosionele verbintenis met die omgewing.

Tydens die eksperimentele fase van haar praktyk het De Jager direk met die aarde gewerk deur katoendoek in verskeie plekke te begrawe. Hierdie materiaal, wat die nywerheid simboliseer, word aan die aarde teruggegee en ondermyn sodoende die komplekse aard van die kapitalistiese bedryf. Deur hierdie stadige proses openbaar sy die ingewikkelde dans tussen menslike intensie en natuurlike kragte, wat haar verbinding met die grond verdiep. Deur pigment uit die grond op elke plek, wat deel is van haar studie, te ontgin, verryk sy haar skilderproses met die essensie van die aarde.

Hierdie simbiotiese verhouding met die aarde transformeer De Jager se praktyk in ‘n ervaringsetiek van sorg, wat dien as ‘n strategie om klimaatverlies te navigeer.

Deur hierdie etos te koester, eer sy haar verbintenis tot ‘n gemeenskap van sorg en erken sy die mens kollektiewe eindigheid en die verganklike aard van die bestaan.

Die uitstalling open op Saterdag 5 April tot Saterdag 26 April by die art.b-gallery in die biblioteeksentrum in Carl van Aswegenstraat in Bellville.

 Bel art.b Gallery by 021 444 6500 vir meer inligting oor die uitstalling.

You need to be Logged In to leave a comment.