Grant Albertyn langs die rugbyveld.
Grant Albertyn langs die rugbyveld.

Medelye en skok is uit klubrugbykringe uitgespreek ná die skielike dood van Grant Albertyn (46), jare lange wedstrydsekretaris van die Kuilsrivier-rugbyklub.

Albertyn is in die vroeë oggendure van Woensdag 12 November weens ‘n beroerte oorlede.

In talle huldeblyke word na hom as ‘n staatmaker en rugbyliefhebber verwys.

Albertyn het in Sarepta grootgeword en skoolgegaan. Hy word oorleef deur sy vrou, Michelle, met wie hy 22 jaar getroud was, hul twee kinders, Kauthar en Taylor, asook ‘n suster en twee broers.

Passie

Donny Isaacs, ‘n vriend en voormalige bestuurslid van die Kuilsrivier-rugbyklub, vertel hy het 25 jaar gelede, in sy speeldae, vir Albertyn as passievolle ondersteuner leer ken. “Hy het ‘n groot passie vir Kuilsrivier-rugby gehad en was die eerste mens om sy vuvuzela tydens wedstryde te blaas.”

Chippie Solomon, tans bestuurder van die Stormers en destyds die Kuilsrivier-rugbyklub se president, het Albertyn in 2004 genader en aangestel as wedstrydsekretaris om Alta Bosman op te volg.

“Alta het Grant touwys gemaak oor wat die rol vereis, ‘n rol wat Grant vir 21 jaar pligsgetrou en nougeset uitgevoer het,” sê Isaacs.

Albertyn het onder meer ook in die klub se komitee gedien wat borge en gesellighede moes reël. Hy moes gereeld met klubs in verbinding tree oor spelersaangeleenthede en jaarliks alle lede van die klub, spelers en nie-spelers, by die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) registreer.

“Dit proses was by tye ingewikkeld, maar Grant het vinnig opgetree en die prosesse vergemaklik. Die wedstrydsekretaris-rol eis baie van jou persoonlike tyd, want die werk word na-ure gedoen,” sê Isaacs. “Michelle het Grant altyd ondersteun sodat hy die werk kon doen. Sy toewyding en die liefde vir ons klub en rugby het van hom ‘n staatmaker gemaak.”

Toewyding

Albertyn was ook die klub se verteenwoordiger in die algemene raad van die WPRU.

“Hy het sy benoeming en die werk wat daarmee gepaard gaan as ‘n eer beskou en sy verpligtinge altyd nagekom, wat by tye tot in die oggend-ure geduur het,” sê Isaacs.

Die WPRU het in ‘n brief aan klubs geskryf Albertyn se passie en toewyding was onmeetbaar, dat hy talle lewens aangeraak het en as ‘n ware staatmaker onthou sal word.

Talle klubs het hul medelye uitgespreek en gesê hy laat ‘n groot leemte.

Tydens die Kuilsrivier-rugbyklub se prysuitdeling in Oktober het Albertyn die presidentstrofee as erkenning ontvang vir sy rol as ambassadeur van die klub en vir sy jare lange toewyding. “Dit is ‘n groot eer om die prys te ontvang en Grant het dit verdien,” sê Isaacs.

Grant Albertyn met die presidentstrofee wat by die Kuilsrivier-rugbyklub se prysuitdeling aan hom oorhandig is deur Eon Gurah, klubpresident.
Grant Albertyn met die presidentstrofee wat by die Kuilsrivier-rugbyklub se prysuitdeling aan hom oorhandig is deur Eon Gurah, klubpresident.

Albertyn word ook onthou vir sy hartlike persoonlikheid en sy hart vir mense. Sy broer, Wayne, het hom beskryf as die “gom” in die familie wat almal altyd kon laat goed voel. “Sy heengaan laat ‘n groot leemte in ons harte.”

Isaacs sê Albertyn kon ook “lekker paartie” — hy gaan sy danspassies op die “Nomvula Mix” — “Kuila se jol-nommertjie”, onthou.

Diens

‘n Gedenkdiens word Donderdag 20 November om 19:00 by die Kuilsrivier-rugbyklub in Jagtershof gehou.

Die begrafnisdiens is Saterdag 22 November om 09:00 in die NG kerk Kuilsrivier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article