Die burgemeester se skoonmaak-veldtog het verlede week ’n draai in Kuilsrivier gemaak.
Die Stad Kaapstad se vaste-afval-dienste
Net die afgelope jaar het onwettige storting die Stad meer as R300 miljoen uit die sak gejaag – geld wat vir ander dienste of projekte gebruik sou kon word.
Grant Twigg, burgemeesterskomiteelid vir stedelike afval, het verlede Woensdagoggend (9 Maart) saam met plaaslike raadslede, sakemense en ander vrywilligers uit die gemeenskap gehelp om die oop stuk grond langs Van Riebeeckweg, skuins oorkant die Netcare Kuilsrivier-hospitaal, skoon te maak. Informele strukture en bewoners op dié grond het die afgelope twee jaar tot die ergernis van baie in die omliggende gemeenskap toegeneem.
Twigg sê dis verblydend om te sien al hoe meer inwoners raak by skoonmaak-pogings betrokke. Hy benadruk ’n inklusiewe benadering moet gevolg word om ’n “kultuurverandering” teweeg te bring sodat rommelstrooi en onwettige storting kan ophou.
“As ons ’n gevoel van openbare trots wil skep, het ons elkeen van julle nodig om ons te help om ons stad skoon te hou,” sê Twigg.
Skakel 086 010 3089 om onwettige storting aan te meld. Inwoners kan ’n beloning ontvang in geval van die suksesvolle vervolging van oortreders.


