Die Kuilsrivier-polisie sê hulle is bewus van gerugte op sosiale media dat nege inbrake op Dinsdag 17 en Woensdag 18 September in Soneike plaasgevind het.
AO Liesel Beukes, woordvoerder van die Kuilsrivier-polisie, sê hulle dra kennis van die gerugte, maar lewer nie kommentaar op goed wat nie op feite gebaseer is nie.
“Die Kuilsrivier-polisie kan slegs verslag doen grond van feitelike inligting.” Beukes sê die polisie het geen rekord van enige inbrake wat van 17 tot 18 September in Soneike plaasgevind het nie.
“Die enigste voorval was ’n huisroof, wat op die genoemde dae in hierdie gebied plaasgevind het,” sê sy.
Die polisie versoek die gemeenskap om nie vals gerugte te versprei nie om sodoende onnodige paniek te voorkom.


