Kamal Cisco het die meeste van die skoolskoene geskenk. Van links is AO Liesel Beukes, Jacqueline Jansen van Vuuren, Ashok Singh (albei van Kamal Cisco), Mahendra Makan (Sektor 4 GPF) en AO Mervyn Lamberts.

Credit: cr

Die Kuilsrivier-polisie het onlangs skoolskoene geskenk aan leerders wat op plase woon.

AO Mervyn Lamberts, landelike koördineerder en Sektor 4-bevelvoerder, het die inisiatief begin om skoolskoene vir dié doel in te samel.

Lamberts wou graag sien dat daar eenheid onder leerders is ongeag die finansiële agtergrond waaruit hulle kom.

“’n Paar skoolskoene kan help om kinders se selftrots ’n hupstoot te gee en is soms die verskil tussen ’n kind wat wil skool toe gaan of dalk wegbly,” sê hy.

Hy het reeds voor die winter begin om sakeondernemings, asook gemeenskapslede, aan te moedig om die projek te ondersteun.

Op Saterdag 10 Augustus is 54 paar skoolskoene aan kinders van plase in die omgewing by die NG kerk Kuilsrivier-Suid oorhandig.

Lt.kol. Lulama Mhambi, waarnemende stasiebevelvoerder, het die borge bedank. Hulle is Kamal Cisco, Zevenwacht-wynlandgoed (verteenwoordig deur Lucinda van Wyk), Langverwacht-plaas (Save the World Foundation verteenwoordig deur Luke Giesler), Vinochem (verteenwoordig deur Hanelie Stiles), die Makan-egpaar van Sektor 4 se GPF-subforum, en Julia Gabries.

You need to be Logged In to leave a comment.