Winter is in die lug en wynliefhebbers kan solank regmaak, want saam met die koue kom die 13de Wacky Wine Weekend. Van 2 tot 5 Junie gaan meer as 40 wynlandgoedere en boetiekwynplase van Robertson, Ashton, Bonnievale en McGregor met hul wyne spog.
Die fees bied vele maniere om jou in die vallei se topwyne te verlustig en die storie agter elke bottel te hoor. Insiggewende meesterwynproeë, verruklike wyn-en-kos-parings en privaat proeë saam met gesiene wynmakers is alles op die program. Die nuwe koepon-stelsel beteken besoekers kan selfs meer wyne ontdek met ses gratis proeë by elke wynlandgoed. Vir die hongeres is daar ’n heerlike verskeidenheid plaaslike lekkernye om saam met die voggies te geniet.
Elkeen van die wynlandgoedere beplan opwindende aktiwiteite, insluitende musiekvertonings wat in elke smaak sal val. Bekende kunstenaars sluit Karen Zoid, Manouche en Bottomless Coffee in. Wacky Wine Weekend is gesinsvriendelik en bied ook vir die jongklomp hope pret soos klimrame, springkastele, gesigverf en vele meer.
Verblyf is beperk, maar as jy nie slaapplek kon kry nie, kan jy vir Jacques Smal van A2B Tours kontak (083 258 4769 of info@a2bcharters.co.za) oor hul dagpakkette. Hulle kan jou van verskeie plekke af karwy, insluitende Somerset-Wes, Stellenbosch, die Paarl en Kaapstad.
Geniet die naweek verantwoordelik met die Buddy Bus wat besoekers daagliks van 08:00 tot 19:00 tussen wynlandgoedere vervoer.
Bespreek jou naweekpaspoort vooraf teen R150 by Webtickets. Geen kaartjies sal by die fees beskikbaar wees nie.
Vir meer inligting, kontak 023 626 3167, of events@robertsonwinevalley.com en besoek www.wackywineweekend.com. Volg ook Wacky Wine Weekend op Twitter, Facebook en Instagram.


