Die Jan Krielskool se matriekklas van 2023 het ’n slaagsyfer van 94,7% en 14 vakonderskeidings behaal.
Uit die klas van 57 leerders het 37 (65%) vir universiteitstoelating gekwalifiseer.
Die toppresteerders is Jarryd Jansen, Danny Borcher en Dihan Britz.
Jarryd het ‘n indrukwekkende 84,4% gemiddeld en vyf vakonderskeidings behaal. Hy is van plan om regte te studeer.
Danny en Dihan het albei drie vakonderskeidings behaal. Danny gaan onderwys aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer en Dihan sagteware-ingenieurswese by Eduvos.
Gerrit Odendaal, skoolhoof het gesê die leerders se harde werk het vrugte afgewerp. “Dankie aan elke persoon wat ’n rol gespeel het in die sukses van die leerders.”