Elsiesrivier se eie Allistair Begg het van 27 tot 30 Maart geskiedenis gemaak toe hy aan die Suid-Afrikaanse Kragoptel-kampioenskap in Potchefstroom deelgeneem en met die eerste plek in die Meesters-1 o.74 kg-afdeling weggestap het. Boonop het hy by die nasionale byeenkoms ook ‘n Suid-Afrikaanse rekord opgestel.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring en eer om my provinsie te verteenwoordig. Die harde werk het beslis vrugte afgewerp,” sê Begg met trots.
Ten spyte van sy uitsonderlike prestasie was die pad Potchefstroom toe nie maklik nie. Begg het aansoek gedoen om borgskap en ondersteuning van verskeie kantore, insluitend dié van Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, en die kantoor van die minister van sport – ongelukkig was daar nie geld beskikbaar nie.
“My werkgewer het darem ingestem om my verlof te gee sodat ek kon reis en voorberei. Ek is dankbaar daarvoor, maar dit is steeds moeilik om alles self te finansier.”
Die ware uitdaging lê egter nog voor. Begg het reeds begin voorberei om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Wêreld-kragoptel-kampioenskap wat in Oktober in Kaapstad plaasvind.
“Ek hoop en bid dat ek die nodige borge of donasies kan kry om my drome te verwesenlik . . . Ek glo ek kan ‘n rolmodel vir jongmense uit gemeenskappe soos Elsiesrivier wees – met deursettingsvermoë en geloof is dit moontlik is om jou doelwitte te bereik.”
Begg is op soek na individue, maatskappye of organisasies wat hom kan help om sy reis na die wêreldkampioenskap moontlik te maak.