’n Plaaslike inwoner, Emerald van Zyl, het ernstige kommer uitgespreek oor sy foutiewe kragmeter en die gevolglike buitensporige elektrisiteitsrekeninge wat hy van die munisipaliteit ontvang het. Van Zyl het sy ontevredenheid oor wat hy as manipulasie van data en ’n gebrek aan deursigtigheid in die berekening van sy elektrisiteitsverbruik beskou, bekendgemaak.
Van Zyl se kragmeter is aanvanklik as foutief geïdentifiseer ná ’n toetsproses waarvoor hy self moes betaal. Die meter is daarna vervang, maar dit het nie ’n einde aan sy probleme gebring nie.
Ondanks die vervanging van sy meter het Van Zyl steeds uitermatig hoë elektrisiteitsrekeninge ontvang wat volgens hom geensins ooreenstem met sy werklike verbruik nie.
Van Zyl het vertel hy het aanvanklik R5 000 en later R6 000 per maand betaal, bedrae wat aansienlik hoër was as wat hy geglo het sy verbruik regverdig het. Ná deeglike monitering van sy daaglikse verbruik – wat ingesluit het dat hy daagliks foto’s van sy meter geneem het – het hy vasgestel dat sy werklike maandelikse verbruik ongeveer R1 000 behoort te wees.

Die situasie het egter verder vererger toe hy rekeninge vir R35 000 en later selfs R56 000 ontvang het, wat hy hewig betwis.
Van Zyl het die munisipaliteit se berekeningsmetodes onder die loep geneem en beweer dat daar foute en gemanipuleerde data in hul berekening is. Hy wys op teenstrydigheid tussen die munisipaliteit se rekords en sy daaglikse meterstande, en bevraagteken die metodes wat gebruik word om sy verbruik te bepaal.
’n Groot bron van frustrasie vir Van Zyl is dat die munisipaliteit weier om duidelike verduidelikings te verskaf. Hy het herhaaldelik gevra vir gedetailleerde state wat wys hoe die munisipaliteit by die R56 000-rekening uitgekom het, maar beweer dat hulle geweier het om hierdie inligting te verskaf. Hy glo hulle probeer hul foute wegsteek en dat hulle nie bereid is om deursigtigheid te toon nie.
Groter infrastruktuurkwessie
Van Zyl het ook sy breër kommer uitgespreek oor die betroubaarheid van die munisipaliteit se kragmeters. Hy wys daarop dat baie meters dekades oud is – sommige is reeds 48 jaar oud – en moontlik nie gereeld getoets word nie. Hy bevraagteken of ander inwoners soortgelyk te veel betaal sonder dat hulle dit besef.
Van Zyl beklemtoon die behoefte aan gereelde toetsing van hierdie verouderde meters en dring aan op deursigtigheid in die hantering van verbruikersklagtes. Hy glo die infrastruktuur is verouderd is en dat die stelsel hervorming nodig het om regverdigheid vir verbruikers te verseker.
Van Zyl wil graag inwoners waarsku om hul elektrisiteitsrekeninge noukeurig te monitor en enige onreëlmatighede met die relevante owerhede te bespreek.
Die Stad Kaapstad het gereageer op kommentaar en bevestig dat hulle wel in kontak was met Van Zyl. Verder sê die Stad ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) mag die hulle geen rekeningverwante inligting bekend maak nie.
Inwoners word aangemoedig om die Stad se oproepsentrum by 0860 103 089 te skakel as hulle sou agterkom dat die Stad hulle meer laat betaal as wat hulle werklik verbruik.


