Jansen staan by die gewraakte palmboom waar sowat nege mense al etlike maande onwettig bly. Foto: Chris Jantjies

Credit: SYSTEM

Die probleem met sowat nege mense wat reeds maande gelede hul intrek onder ’n reusepalmboom op ’n sypaadjie in Queenstraat geneem het – ironies genoeg skuins oorkant MES Durbanville – het Maandagoggend vroeg oorgekook toe hul onwettige vuur die elektrisiteitsboks laat ontplof en uitbrand het.

MES Durbanville, ’n gedeelte van die Rosehaven-aftreeoord, asook ander besighede in Queenstraat, was Maandag sonder elektrisiteit. Die Stad Kaapstad se elektrisiteitsafdeling het van vroeg Maandagoggend in reënweer gewerk om dit te herstel.

Earle Jansen

Earle Jansen, ’n uitreikwerker van MES Kaapstad, staan by die gat waar die elektrisiteitsboks was. Foto: Chris Jantjies

’n Nuwe staal elektrisiteitsboks is teen die middag opgerig en die palmboom is effe gesnoei.

Volgens Beverley van Reenen, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir energie, is sowat 10 klante daardeur geraak. Die installering van die nuwe boks sou sowat vier ure duur, het sy gesê.

Brand het versprei

Jermaine Carelse, woordvoerder vir die Stad se brand- en reddingsdienste, het gesê die brand het omstreeks 05:00 ontstaan.

“Die brand-en reddingsdienste het ’n oproep ontvang dat die elektrisiteitsboks aan die brand is. Die Durbanville-brandweer was op die toneel. Die brand het versprei na vullis wat langs die boks gelê het. Hulle het die brand geblus en die gebied afgesper,” het hy gesê.

Volgens Franita Knudsen van MES Durbanville is die straatmense al ’n geruime tyd ’n probleem.

MES Durbanville het die sowat nege straatmense al genader om hulle by MES Durbanville se programme te laat inskakel, maar hulle het tot nou nog geweier. Twee van hulle het tevore by Baxterstraat in tente gebly, waar hulle in Januarie ná bykans drie jaar met ’n hofbevel deur die Stad verwyder is.

“Die mans wat die brand veroorsaak het, het vermoedelik koperdrade gebrand en het nie die vuur gemaak vir warmte nie,” sê sy.

Daar word vermoed dat van die palmbewoners al by misdaad in die omgewing betrokke was – onder meer die diefstal van ’n kragopwekker by ’n boetiek en ’n inbraak by MES Durbanville.

Jansen staan by die gewraakte palmboom waar sowat nege mense al etlike maande onwettig bly. Foto: Chris Jantjies

Wil nie saamwerk nie

Dit word ook sterk vermoed dat dwelmhandel daar plaasvind, sê sy.

“Ons het al profiele oor hulle opgestel en weet wie hulle almal is. Hulle wil nie saamwerk nie en wil geen hulp van ons aanvaar nie, daarom lewer ons geen dienste aan hulle nie – anders as wat mense dink.

“Dit is belangrik dat die publiek verstaan MES Durbanville is nie ’n sopkombuis nie en dat ons net mense help wat bereid is om deel van ons programme te raak en ’n Mi-Change-koepon het.

“Aangesien geen permanente oplossing gevind is, is hul onwettige strukture aangemeld en al talle kere verwyder. Ons MES Change Readiness and Work Readiness-spanne (Grow-spanne) maak Queenstraat gereeld skoon.

“Ons wil weereens ’n beroep op inwoners doen om nie geld, kos of enigiets aan hierdie mense uit te deel nie. Moet ook nie waardevolle items soos kragdrade of enige elektroniese afval in jou vullisdrom gooi, wat ‘skarrelaars’ lok nie. MES Durbanville herwin hierdie items op ’n verantwoordelike wyse,” het sy versoek.

“Ons werk nóú saam met die Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement, buurtwagte en ander instansies soos Friends of Durbanville,” het sy gesê.

MES Durbanville gaan nou ook saamwerk met organisasies soos Khulisa Streetscapes, wat fokus op die rehabilitasie van antisosiale gedrag, asook TB HIV Care, ’n organisasie wat werk met dwelmverslaafdes, aan ’n oplossing vir en rehabilitasie van die palmbewoners.

“MES is al 38 jaar aan die gang en ons bly meer leer van hoe om mense met verslawing en antisosiale gedrag te help deur met ander organisasies saam te werk. Ons gee nie op nie!

“Ons pak haweloosheid met ’n holistiese benadering aan. Met die samewerking van die gemeenskap en die verantwoordelik gee deur middel van die Mi-Change-inisiatief, is verandering en integrasie moontlik.

“Ons waardeer die gemeenskap se volgehoue ondersteuning. Mense kan ons kontak met vrae oor ons programme en hoe ons kan saamwerk om die hart van Durbanville te verander,” het sy gesê.

Hoop beskaam

Die hoop beskaam egter dat daar gou van hulle ontslae geraak sal word.

Volgens Patricia van der Ross, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, maak die hofbevel vir die verwydering van die Baxterstraat-straatmense slegs voorsiening vir daardie gebied en omringende erwe en openbare ruimtes.

Queenstraat is nie daarby ingesluit nie en geen optrede is ingevolge dié hofbevel teen hulle gemagtig nie.

“Die Wet op Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond van 2022 beskerm die regte van mense wat nie wetlike reg het op die grond waarop hulle bly nie.

“Die Stad bied maatskaplike bystand aan mense wat op straat bly, insluitende onder meer verblyf in ’n veilige plek of skuiling, toegang tot ontwikkelingsprogramme, gesondheidsorg en toegang tot substansafhanklikheidsbehandeling.

“Diegene wat maatskaplike bystand weier, sal ingesluit word in ’n aansoek om uitsetting, wat deur die grondeienaar by die Stad se regsdienste-departement ingedien moet word,” het sy by navraag deur TygerBurger gesê.

“Die Stad se eenheid vir straatmense sal voortgaan om met mense wat uitgesit is, te onderhandel om maatskaplike bystand te aanvaar,” het sy gesê.

Kontak Franita Knudsen by cptfundraising@mes.org.za of 082 440 7055 met navrae. Besoek www.mes.org.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article