Kwayo Louw is die Wes-Kaapse polisie se Operasionele Lid van die Jaar vir 2024.
Kwayo Louw is die Wes-Kaapse polisie se Operasionele Lid van die Jaar vir 2024.

‘n Toegewyde polisieman en stigter van die immergewilde Faceboek-groep Kraailove, Kwayo Louw, is aangewys as 2024 se Operasionele Lid van die Jaar by die Wes-Kaapse provinsiale polisie-uitnemendheidstoekennings. Hy was ook naaswenner van dieselfde kategorie in die nasionale kompetisie.

Louw is ook aangewys as die naaswenner vir die Wes-Kaapse Man van die Jaar.

Dit is alles te wyte aan sy briljante werk by die Maitland-blitspatrollie, sowel as sy gemeenskapswerk by Kraailove.

As `n konstabel by die blitspatrollie het Louw in die afgelope boekjaar alleen beslag gelê op meer as 50 onwettige vuurwapens en talle oortreders voor die gereg gebring.

Sedert sy jeug het Louw, ongeag sy omstandighede, homself beywer om `n verskil te maak.

As tiener by die Hoërskool Scottsdene, een van Kraaifontein se ergste bendegebiede, het hy Kraailove gestig, `n klein gemeenskapsinisiatief met slegs vyf vrywilligers, wat daarop gemik is om weerloses op te hef.

Die groep het sedertdien gegroei tot `n kragtige misdaadvoorkomings- en gemeenskapsbemagtigings-beweging met meer as 180 000 ondersteuners. Kraailove pak die wrede werklikhede van bendes, dwelmmisbruik, geslagsgebaseerde geweld, en ander dringende kwessies aan in ‘n gemeenskap waarin een uit elke drie tot vier seuns óf uitval óf by ‘n bende aansluit.

Opgedra aan die jeug

Ná skool het Louw `n diploma in maatskaplike hulpwerk aan Hugenote-kollege verwerf en daarna in 2016 by die polisie aangesluit.

“Dit voel altyd goed as mense raaksien wat jy doen, en jy erkenning kry daarvoor. Dit gee my moed om meer te doen en om die ekstra myl te stap,” het hy aan TygerBurger vertel. “Vir my gaan dit oor die verandering wat ek kan maak en die impak wat my werk op mense se lewe het.”

Die toekennings, sê hy, dra hy op aan die jongmense van Kraaifontein waar hy self gebore en getoë is. “Dit is om vir hulle te wys wat hulle kan doen en bereik in die lewe. As tiener het ek op die skoolbanke gesit saam met vriende wat vandag in bendes is, baie van hulle reeds doodgeskiet. Ek het gesien hoe ons jongmense agteruitgaan en hoe dit die gemeenskap raak. Ek het gesien hoe kinders by die skool uitval omdat hulle te bang is om skool toe te gaan waar pangas en guns hulle by die skoohekke inwag. Ek het gesien wat dit aan jongmense doen, en dit het my geïnspireer om Kraailove te begin.”

Lewe met `n doel

Sy werk as polisieman is sy passie. “Ek het altyd geweet dat ek my gemeenskap op die een of ander manier wil dien. As polisieman is daar altyd vir my gesê om nie te werk in die gemeenskap waar ek bly nie, want jy gaan geteiken word. Maar vandag sien ek hoe die mense in die gemeenskap my vertrou. Vir baie is Kraailove die laaste hoop as hulle nie meer weet watter kant toe nie.”

Louw ontvang daagliks duisende boodskappe uit die gemeenskap oor kwessies in Kraaifontein. “Dit raak soms moeilik om als te behartig en polisieman te wees, maar ek doen dit met die wete dat dit verandering teweeg bring in ons gemeenskappe. As polisiemanne word ons deur baie uitdagings in die gesig gestaar, maar ek vat dit soos dit kom. Jy groet maar elke oggend by die huis, want jy weet nie of jy gaan terugkom nie. Maar wat daar buite gebeur moet gebeur,” sê hy oor sy werk by die blitspatrollie, wat fokus op medium- en hoërisiko-misdaad soos skietvoorvalle en rooftogte.

“Dis hoekom ons die vinnige karre het. Elke dag as ek by die werk kom, is my werk vir my uitgelê. Ek dink die vorige aand al waarop ek gaan fokus. Ek kom nie net werk toe omdat dit ‘n job is nie; ek lewe met ‘n doel. As ek nie polisieman is nie, is ek besig met gemeenskapsprojekte. Dis wie ek is.”

Sy dankbaarheid aan die gemeenskap is groot. “Dis lekker om ‘n gemeenskap te hê wat daar is vir jou en wat jou as polisieman waardeer. Ons sit nie altyd om dieselfde vuur nie, maar die liefde is altyd daar.”

Louw staan by sy vele toekeninngs.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article