Kraaifontein is nou veel fraaier nadat AfriForum se Kraaifontein-tak, as deel van die #OnsDorp-veldtog, ’n toegangspunt tot dié gebied opgeknap en inheemse plante en bome daar aangeplant het.
Die sypaadjie-parkies by die Van Riebeeckweg- en Frans Conradierylaan-kruising, ’n belangrike toegangspunt tot Kraaifontein, is vir hierdie projek getakel.
Dié ingang na Kraaifontein dra baie verkeer en is talle motoriste, insluitende toeriste, se eerste kennismaking met die gebied.
“Die twee sypaadjie-parkies het egter die afgelope tyd verval en was ’n seer oog in die buurt. Die tak het daarom besluit om hierdie toegangspunt, met die toestemming van die Stad Kaapstad, op te knap,” sê Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus.
Plaaslike landskapargitekte is vir dié projek genader. Ná deeglike beplanning is besluit om bome en plante eie aan die Wes-Kaap hier te vestig. Witstinkhoutbome, verskillende soorte vygies, waaronder klipvygies en vetplante soos die pers tapyt, is aangeplant. Hierdie spesies is ooreenkomstig die Stad Kaapstad se vergroeningsinisiatiewe gekies.”
Die Kraaifontein-tak en personeel van die landskapargitekte het eers die sypaadjie-parkies opgeruim en onkruid en vullis daar verwyder. Kompos is ingewerk om te verseker dat die beddings genoegsame voeding aan die nuwe plante sal verleen.
AfriForum, saam met die landskapargitekte, sal boonop ook die instandhouding van die parkies hanteer.
“Ons is besonder opgewonde oor hierdie projek en sien daarna uit om nog soortgelyke projekte in Kraaifontein aan te pak. Dis vir ons verrykend om deel van die oplossing te wees en dit wat aan ons toevertrou is, op te bou en te verbeter,” sê Crous.
Die instandhouding van Tennantpark, geleë tussen Bissetweg en Marlborough- en Tennantstraat in Kraaifontein, is nóg ’n projek waarmee die Kraaifontein-tak al vir ’n geruime tyd besig is.
Crous moedig die gemeenskap aan om by dié en ander soortgelyke projekte waarby die Kraaifontein-tak betrokke is, in te skakel.
Stuur ’n e-pos na johan.crous@afriforum.co.za om by die Kraaifontein-tak betrokke te raak.