Inwoners het onlangs na die polisiestasie opgeruk om die hoë misdaad in die area as gevolg van die donkerte bloot te lê. Foto ter illustrasie. Foto: Sonqoba Kunene


Die gemeenskapsleier Gavin Riddles spoeg vuur oor die toestand van die huise in die nuwe Maroela-Suid-behuisingsprojek in Kraaifontein.

Begunstigdes, wat al dekades wag op behuising, het sowat ses maande gelede hul intrek in die nuwe staatsgesubsidieerde huise geneem, maar sit tot nou toe nog in onvoltooide huise, wat in donkerte gehul is, sê Riddles van die Gemeenskap Wet en Orde Stigting van Suid-Afrika.

“Die huise is aan mense oorhandig sonder kragtoevoer, geisers en in sommige huise, teëls. Die mure is ook ongeverf en daar is geen gloeilampe in die ligte nie. Baie van die huise het ook krake en ander defekte gehad. Dis asof die ontwikkelaars of kontrakteurs kortpad gevat het. Hierdie is nie ’n tydelike kragonderbreking nie maar totale donkerte.

“Mense gebruik kerse of paraffienlampies en stofies en geen kos kan vars gehou word nie,” sê hy.

Volgens hom is die projek al sedert 2015 in beplanning en moes dit volgens verwagtinge ’n hoë maatstaf handhaaf.

“Maar die mense is net daar neergeplak; daar is nie eens straatligte nie. Ons soek antwoorde. Hoe oorhandig jy ’n onvoltooide huis waarvoor kontrakteurs betaal is?

“Inwoners is diep teleurgesteld en dit maak my warm onder die kraag. Ek het die kantoor van die burgemeester, asook komiteelid van behuising, gekontak om met dringendheid die probleem op te los. Ook ’n Eskom-verteenwoordiger is gekontak, maar het geen terugvoering gelewer nie.”

Inwoners het onlangs na die polisiestasie opgeruk om die hoë misdaad in die area as gevolg van die donkerte bloot te lê.

“Die misdaad is baie hoog hier. Daar was al ’n moord en talle inbrake en huisrooftogte. “Mense is bang om hier te bly en sommiges het al uit vrees oorweeg om uit te trek.”

By ’n informele vergadering het inwoners voorgestel dat die projek gestop word sodat die huise wat reeds toegeken is, eers voltooi word.

“Huise en basiese dienste is ’n reg en nie ’n versoek nie,” sê Riddles, wat saam met die inwoners ’n memorandum opgestel en gister aan die Stad oorhandig het.

Intussen poog inwoners om fondse in te samel om kragopwekkers aan te skaf.

73 huise voltooi

Carl Pophaim, burgemeesterskomiteelid vir behuising, het bevestig dat daar reeds 73 huise in die projek voltooi is, en 44 in verskeie fases van voltooiing is.

Pophaim sê geisers word nie voorsien in die huise nie aangesien die behuisingsubsidie nie voorsiening maak vir die installasie daarvan nie. Begunstigdes moet op eie onkoste geisers installeer, sê hy.

Gesubsidieerde huise word ook gebou in ooreenstemming met die Wes-Kaapse regering se minimum standaarde.

Volgens dié minimum standaarde word binnemure nie geverf nie, maar alle interne bedrading voltooi. Hy het geen kommentaar gelewer op die afwesigheid van teëls nie.

Pophaim sê gloeilampe word geïnstalleer op die dag van die oorhandiging, wat begunstigdes dan in staat stel om dit na te gaan en te verifieer, voordat aanvaarding van die huis onderteken word.

“Ons het verskeie uitdagings oor ’n aantal maande in die gesig gestaar, maar het toegewyd gebly aan die vordering van die projek om toe te sien dat die huise van begunstigdes so gou moontlik voltooi word. Die huidige fase van die Maroela-projek sal in Junie 2024 voltooi wees, as alles verloop soos beplan,” sê hy.

Kragtoevoer ’n probleem

Omdat Maroela-Suid in ’n Eskom-toevoergebied geleë is, is Eskom verantwoordelik vir kragtoevoer en huis-aansluitings, maar volgens Pophaim is die kragverbindings sedert November 2023 vertraag weens ’n gebrek aan grootmaatkapasiteit in die gebied.

“Eskom se grootmaat-opknappingsprojekte het talle vertragings ervaar en ons verwag dat dit in die tweede helfte van 2024 voltooi sal word.

“Sodra die opknapwerk voltooi is, sal Eskom begin met die installering van hul netwerk en die koppeling van huise,” sê Pophaim.

Hy voeg by dat begunstigdes wel met die oorhandiging van die huise ingelig was dat die eenhede nie krag het nie.

“Hulle word die opsie gebied om ’n huis sonder krag te aanvaar of nie te aanvaar nie, en almal het tot dusver die opsie aanvaar deur ’n erkenningsbrief te onderteken.”

Hy sê die Stad is deurentyd in kontak met Eskom oor die kwessie. Eskom het op navraag van TygerBurger, teen druktyd nog nie kommentaar gelewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.