In ’n rekordpoging om voedselnood die hoof te bied, het Radio Tygerberg 104FM binne net agt ure altesaam 5 000 kosprodukte ingesamel.
Die Blikkies, Pakkies en Sakkies-projek het ontstaan toe die gewilde radiostasie te hore gekom het van die nood by Shiloh Synergy, ’n nie-winsgewende organisasie in Brackenfell wat maandeliks derduisende mense van kos voorsien.
Waar dié organisasie voorheen sowat 50 000 etes kon voorsien aan hulpbehoewende instansies reg oor die Wes-Kaap, het die knou van Covid-19 hulle genoodsaak om die syfer na 40 000 etes te verlaag. As gevolg hiervan kan baie sopkombuise, ouetehuise en kleuterskole nie meer maandeliks van etes voorsien word nie.
“Ons het in die tydperk baie van ons donateurs verloor, maar terselfdertyd het die nood ook baie groter geword,” sê Estelle Veldman, uitvoerende hoof van Shiloh Synergy.
Benescke Janse van Rensburg, bedieningshoof by Radio Tygerberg, vertel dat hulle by die radio gewoonlik luisteraars in kosnood na hul bedieningsvennoot Shiloh Synergy verwys.
“Om te hoor dat hulle self in die nood is en self mense moes wegstuur sonder kos, het ons geskok. Ons moes eenvoudig iets doen,” sê sy.
“Die aanvanklike plan was om te probeer om binne 48 uur 5 000 kosartikels in te samel. Maar dié mikpunt is reeds binne net 8 uur bereik!”
Rikus van Rooy, stasiebestuurder by Radio Tygerberg, sê hy was verstom en dankbaar oor die reaksie. “Oud en jonk het ingespring. Mense van ouetehuise, kleuterskole en selfs kollegas in die werkplek het saamgespan en produkte gebring.
“Ons is dankbaar vir ons lojale luisteraars wat ons opnuut kom wys het wat vermag kan word as mense saamstaan en hart wys.
“Spar Wes-Kaap het ook gehoor van die inisiatief en besluit om die 5 000 kospakkies te ewenaar en die produkte bly steeds instroom,” sê Janse van Rensburg.
“Ons kan nie genoeg dankie sê vir die publiek se deelname nie en ons vertrou dat dit ’n groot verskil vir die Shiloh Synergy-span sal maak.”
Volgens Veldman is hierdie veldtog ’n antwoord op hul gebed.
‘“Ons harte wou breek elke keer as ons mense moes wegwys. God het ons gebede beantwoord op ’n manier wat ons nooit self sou kon voorspel nie. Ons kon nie glo hoe die mense hul harte vir ons as organisasie en vir hul medemens oopgemaak het nie. Dit was ’n humbling ervaring,” sê sy.
Volgens Veldman is daar is genoeg kontant en voedsel ingesamel om sowat 12 000 etes vir een maand te verskaf.
Die instansies sal dan op ’n maandelikse waglys bly vir etes in die maande wat volg.
“Dis hartseer, want die ouens het nie ’n plan-B nie; ons is hulle plan-B. Ons hoofdoel is nou om die tekort van 10 000 etes per maand ten volle te herstel,” sê sy.
- Shiloh Synergy kan bereik word by www.shiloh.org.za of 021 982 8241.
Bydraes kan aanlyn gemaak word by www.shiloh.org.za/donate-now.


