Daar heers groeiende kommer by belastingbetalers in Kraaifontein oor die verwaarlosing van openbare ruimtes en openbare parke as gevolg van grassnytenders wat jaar ná jaar eers baie laat in die jaar in werking gestel word.
Hoewel die Stad Kaapstad se standaardinstandhoudingsprogram aandui dat parke en openbare oop ruimtes sewe keer per jaar gesny moet word, en padreserwes vier keer, stry inwoners dat dit wel so geskied.
Chris van Molendorff verwys na een so ‘n park op die hoek van Darwin- en Mosselbankstraat wat verlede jaar net een keer deur die 2023-kontrakteurs gesny is.
“Hierdie situasie blyk elke jaar te vererger. Jaarliks, vir die nuwe boekjaar, word tenders vir die kontrakteurs te laat uitgestuur, klaarblyklik eers wanneer die huidige kontrakte einde Junie verval. Verlede jaar is ons park in Mei voor die winter gesny, steeds op die 2023-kontrak. Tydens en ná die winter het dit soos `n oerwoud gelyk.
“Ek het verskeie skrywes gestuur en ten einde laaste is die park ná verskeie uitstelle en verskonings in November gesny – vyf maande nadat die nuwe 2024-kontrak in werking getree het,” sê hy.
Dit blyk die geval te wees in verskeie parke in die voorstad, meen Van Molendorff.
“Dit is nou weer vyf maande later, en nog steeds is die gras nie gesny nie en die nuwe boekjaar se kontraktenders moet alweer uitgesit word. Sover blyk dit dus gegewe die feit dat ons aanspreeklik is om elke maand ons belasting te betaal wat hierdie dienste insluit, ons park slegs een keer gesny sal word in die huidige jaar, terwyl, sover ek bewus is, dit elke drie maande moet geskied. Dié is duidelik ‘n kwessie van swak dienslewering en ons as inwoners bly in die duister terwyl die departemente verantwoordelik hul stilswye handhaaf.”
Van Molendorff het reeds weer twee navrae gerig aan die afdelings gemoeid met die sny en skoonmaak van parke en openbare ruimtes, sowel as die kantoor van Kaaptsad se burgemeester, Geordin-Hill Lewis.
“Ek het erkenning vir my skrywes van die burgermeester se kantoor gekry, maar geen antwoord van die ander twee afdelings nie. Dié antwoord is altyd dieselfde, maar geen optrede volg nie. Dis maar net `n betekenislose standaard antwoord. ‘n Mens wonder of die klagtes gedelegeer word na die regte departemente,” sê hy.
Bome vyf jaar terug gesnoei
In reaksie op Van Molendorff se klagtes sê die Stad se parke-afdeling dat die gras in dié park in die derde week van Desember gesny is.
`n Woordvoerder het by navraag van TygerBurger verlede week bevestig dat die park geskeduleer is om weer vandeesweek gesny te word. Die woordvoerder het bevestig dat die instandhouding van parke uitgevoer word in ooreenstemming met die Stad se standaard-instandhoudingskedule, waarvolgens parke en openbare oop ruimtes sewe keer per jaar gesny word, en padreserwes vier keer per jaar.
Volgens Van Molendorff is dit nie die geval by die spesifieke, en omringende parke nie.
“Nee, dis nie waar nie. Ek hou rekord van die dae wat kontrakteurs die park besoek. Ons is gelukkig as die gras hier drie keer per jaar gesny word, en die bome is vyf jaar laas gesnoei. Ek bly al 20 jaar hier en ons park is in 2023 laas gereeld gesny. In die winter sny hulle glad nie en die onkruid groei welig.
“Die plaaslike parke-afdeling beantwoord nie eens meer navrae nie. Daar is net nie meer aanspreeklikheid nie, geen werksetiek of werksverpligtinge nie. Inwoners het nou maar self begin om parke in stand te hou,” sê hy.
* Stuur ‘n e-pos na die departement na RP.Enquiries@capetown.gov.za met navrae oor die snyprogram en vir ander inligting.