Die stilstaande water direk agter die Sarepta-kliniek stink na riool.FOTO: Carina Roux


Die Stad Kaapstad het die versekering gegee dat die Sarepta-kliniek se deure oop sal bly ten spyte van uitdagings met water en sanitasie by die perseel.

Personeel en besoekers moes die afgelope twee weke gewoond raak aan die onwelriekende ‘‘klankie” van riool wat in die lug hang.

Met TygerBurger se besoek verlede Woensdag is uitgewys dat daar staande water agter die perseel is tot bykans teen die muur van die kliniek.

Die reuk en sekere “opdrifsels’’ het die vermoede laat ontstaan dat dit nie net opgedamde reënwater is wat weens die nat winter en oorversadigde grond nog nie kon dreineer nie, maar ook rioolwater.

Die grond tussen die kliniek en die Rietvlei-pompstasie (naby die kanaal) lyk wel tans soos ’n vleiland van die reënwater.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê weens hierdie reënseisoen – met die hoogste reënval in 25 jaar – het die impak van onwettige stormwaterverbindings die pompstasie onder erge druk geplaas. “Die verbetering van die pompstasie is geïdentifiseer as ‘n prioriteit om voorsiening te maak vir huidige en toekomstige rioolafvoer.”

Verlede week moes besoekers nie net die stank trotseer nie, maar ook mooi trap om hul voete droog te hou om by die ingang van die kliniek uit te kom.

Genadiglik was dit darem nie rioolwater wat aan die kliniek se voorkant oor die plaveisel geloop het nie.

Die vleiland is agter Sarepta-kliniek weens opgedamde reënwater en moontlik rioolwater.FOTO: Carina Roux

’n Personeellid het uitgewys dat die water (sedert Maandag 12 Augustus) uit ’n lekkende waterpyp wat naby ’n boom se wortels is, gevloei het.

Vrydag het ’n personeellid genoem dat die watertoevoer na die kliniek en gemeenskapsaal afgesny was omdat ’n span van die Stad na die lek kom kyk het.

Gesondheidsrisiko

Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, het in antwoord op TygerBurger se navraag oor moontlike gesondheidsrisiko’s gesê ten spyte van die uitdagings met water en sanitasie wat tans by die Sarepta-kliniek ondervind word, sal die kliniek nie gesluit word nie.

“Die ingang na die fasiliteit is oop en infeksiebeheer word in die kliniek toegepas.”

Van der Ross het bevestig dat die Stad se water en sanitasiedepartement op Vrydag 16 Augustus by die perseel ondersoek ingestel het.

“Die kliniek bedien ’n weerbare gemeenskap wat sterk steun op ons dienste. Om die kliniek te sluit sal diegene wat ’n dringende behoefte aan gesondheidsorg het, nadelig raak.”

“Ons is aktief besig om die aangeleentheid met die betrokke departemente op te volg om ’n veilige omgewing vir sowel die personeel as pasiënte te verseker. Ons prioriteit is om noodsaaklike gesondheidsdienste te verskaf terwyl ons daaraan werk om die probleme op te los,” sê Van der Ross.

You need to be Logged In to leave a comment.