Kleuters verlate sonder ma op treinstasie gevind

Twee kinders van onderskeidelik vyf en twee jaar oud is Donderdag deur werknemers van ‘n treinstasie sonder hul ma gevind en uiteindelik na veiligheid gebring.


Die polisie in Eersterivier is op soek na die ma van twee
minderjarige kinders wat vanoggend (Donderdag 19 Januarie) sonder toesig by die
Eersterivier-treinstasie gevind is.

Die seun (5) en die meisie (2) is deur Metrorail-werkers gesien
waar hulle op die stasie rondbeweeg. Die polisie is ingeroep en hulle het die
kinders verwyder.

Volgens kapt. Florina Muller, polisiewoordvoerder vir Eersterivier,
het die ouer kind gedurig van “Shoprite” gepraat.

“Ons besluit toe om saam met hulle na Shoprite in Eersterivier te
gaan en vra toe die ouer een of hy weet hoe hulle gewoonlik tot by Shoprite
loop.

“Terwyl ons rondry het hy vertel dat hulle in die kleuterskool is.
Ek is saam met hulle na die Morning Star-kleuterskool waar die eienaar die
kinders herken het. Sy sê toe hulle was wel verlede jaar in haar skool, maar het
nie vanjaar teruggekeer nie,” sê Muller.

Muller is toe na ’n adres wat deur die eienaar van die skool
verskaf is.

Daar het sy uitgevind die ma sukkel glo geldelik en kon nie vanjaar
die kinders se skoolgeld betaal nie. Intussen het sy die kinders by ’n vrou in
die straat naby waar sy woon, gelos wanneer sy soggens werk toe gaan.

Donderdagoggend het sy nie met die kinders by dié vrou se huis
opgedaag nie.

Muller sê sy het die kinders na die kantore van maatskaplike
ontwikkeling in Eersterivier geneem, maar ná ure se gewag het sy geen hulp
ontvang nie. “Ek was toe genoodsaak om die kinders by die vrou te gaan los waar
hulle ma hulle altyd los. Daar is nog nie ’n saak aanhangig gemaak nie,” sê
Muller.

Sihle Ngobese, woordvoerder vir Albert Fritz, provinsiale minister
van maatskaplike ontwikkeling, sê by navraag hy is nie bewus van die feite
rondom die aangeleentheid nie.

You need to be Logged In to leave a comment.