Kleuter sterf in Wesbank-skietery

Klein Davin Africa van Wesbank het baie daarna uitgesien om sy vyfde verjaarsdag op Maandag (17 Februarie) met ’n Spiderman-verjaarsdagpartytjie te vier.


Klein Davin Africa van Wesbank het baie daarna uitgesien om sy vyfde verjaarsdag op Maandag (17 Februarie) met ’n Spiderman-verjaarsdagpartytjie te vier.

Maandag was daar toe ’n mooi Spiderman-koek, maar Davin was nie meer daar om dit te sien nie. Net drie slapies voor sy spesiale dag is sy lewe wreed weggeruk toe in die jaart voor die huisie in Happiness-straat, waar Davin reeds in die bed was, verskeie skote afgevuur is.

Davin is sy ma, Undean Koopman, se tweede kind wat in Wesbank doodgeskiet is – in net bietjie meer as ’n jaar.

Op 5 November 2023 het Davin se ousus Kelly (12) saam met maats op ’n straathoek gesit en “TikTok” toe beurtkrag begin het en jongens om die draai gekom en op hulle losgebrand het, het Koopman Maandag vertel.

Laas Vrydag ná 22:00 het die noodlot weer toegeslaan.

Koopman vertel Davin het die aand op sy pa, Devon Africa, se bors aan die slaap geraak in hul klein leefvertrek. “Ek het hom toe self gaan neerlê op sy plek.”

Davin Africa was ’n spontane seuntjie wat lief was vir mense.

Davin se jonger sussie, Kiesha (3), het later op haar pa se slaapplek gaan lê. Africa het TV gekyk en Koopman wou haarself was. Toe hoor sy ’n klapgeluid.

“Dit het geklink soos ’n klipgooiery teen die hek, maar toe dit aanhou, toe kyk ek en Devon vir mekaar en toe duik ons al twee hier plat op die vloer.”

Kort daarna het Africa vir Kiesha gaan haal. Koopman is na Davin toe.

“Ek het om die kooi gegaan om vir Davin te gaan kry, maar toe ek aan hom vat, toe hoor ek hy skree: ‘Neeee!’

“Ek het hom gevat en toe ek hier kom (in die leefvertrek), toe sien ek bloed op my voete drup.

“Toe sê ek vir Devon: ‘Davin is raakgeskiet’.’’

Al vier van hulle het in die klein vertrek op die vloer gelê voordat Koopman buitentoe is, oor die pad na ’n buurvrou.

“Haar man werk as medic en sy het hom laat weet.”

Koopman sê die ambulans was binne ’n halfuur daar.

“Voor hulle (die paramedici) gekom het, het ek vir Davin gesê: “Kom ons sing ‘Maak hom toe onder U bloed Here’.”

Davin het ’n slag diep na asem geteug. “Devon het gesê: ‘Boeta, praat met pa’.” Toe maak hy weer so (asemteug). Toe maak sy ogies oop en gaan weer stadig toe. Sy hart het nog geklop.”

Koopman het vir Davin mond-tot-mond asemhaling gegee, maar haar seun se hart het stilgeword voordat die paramedici die huis binnegekom het.

Spontaan

“Vandag (Maandag) sou hy vyf geword het, nou is hy ‘forever four’.”

Hulle het beplan om sy vriende te nooi vir ’n Spiderman-partytjie en was vasbeslote om wel Maandag sy verjaarsdag te vier.

Die Spiderman-ballon wat sy sussie Kiesha met haar verjaarsdag in Januarie gekry het, moes opgepas word sodat dit op sy verjaarsdag nog daar sou wees.

Lindy Jacobs van Balls Not Guns, wat die Spiderman-verjaarsdagkoek Maandag gebring het, saam met Kiesha en kinders van die buurt, wat vir Davin “Happy Birthday” gesing het.Foto: Carina Roux

Sy ouers sê Davin het soms “grootmensgoed” gepraat en vrae gevra wat hulle verras het. Hy was ’n spontane kind wat graag gesels het.

“Hy sou vir sy pa sê; “Daddy as ek vyf is en die Here my uitspaar, gaan ek skool toe,” vertel Koopman.

Hy sou roep: “Mammie hoor gou hier! Mammie luister man!”

Onlangs wou hy by haar weet of die hemel trappe het. “Ek het gesê: Wat? Moenie sulke goed vra nie.”

“Maar Mammie, ek vra net vir Mammie of die hemel “stairse” het?”

Hy het gaan opkyk en vir haar kom sê: “Mammie, kyk op die phone wys hulle die hemel het stairse – die hemel by Liewe Jesus.”

Koopman vertel dit was asof Davin goed kon sien wat hulle nie kon nie. Hy sou hulle gereeld waarsku om eerder ’n ander pad langs te stap.

“Ná Kelly se sterfte, roep hy my eendag: ‘Mammie, mammie kom kyk, hier kom Kelly aan’ – sy was toe lankal begrawe.”

Op ’n tyd het hy in die nag opgestaan en vir sy ma kom sê hy sien ’n man wat opwas en haar borde stukkend gooi.

“Laas week het hy vir sy pa gesê: Pa, die uncle breek die glase hier binne die kas (in hul leefvertrek).

Africa sê hy het vir sy seun gevra: “Waar is die man? Wys my. Toe sê hy: ‘Hier, hier pa’.”

Daar in hul leefvertrek voor die kas waar sy seun Vrydag op die mat gesterf het.

Lielanie Africa, Davin se ouma, sê sy gaan haar kleinseun se stem en sy glimlag mis. “Onbekende mense het sommer van hom gehou. Hy het daai spontaniteit gehad.”

Hy was ’n terggees en het ’n gestremde maatjie gehad, vertel sy. “Davin het daai klong geleer praat. Hy het vir hom gesê: Kom gee jou hand, ons gaan bietjie daar by my speel,” sê sy ouma. “Daar was net een soos Davin.”

Titanium Securitas het op hul Facebook-blad berig dat hul mediese reaksiespan verlede Vrydag omstreeks 22:30 reageer het ná ’n oproep oor ’n skietery in Wesbank.

Daar was niks wat hulle meer vir die seun kon doen nie, maar ’n ernstig gewonde man is op die toneel behandel en na ’n hospitaal vervoer, is berig.

AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, het gister gesê speurders van die teenbende-eenheid is hard aan die werk om leidrade op te volg om diegene verantwoordelik vir die kleuter se dood, sowel as poging tot moord op ’n volwasse man (30) wat in die skietery gewond is, te probeer aankeer.

Swartbooi sê onbekende skieters het omstreeks 22:30 op die woning skote gevuur.

Die motief vir die aanval word ondersoek.

Die polisie versoek enigeen met inligting om hul teen-misdaadnommer te skakel of anoniem van die MySAPS-toepassing gebruik te maak.

Skakel die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111

You need to be Logged In to leave a comment.