Die tweede jaarlikse Colour Run wat op Saterdag 7 Desember deur die organisasie #AgainstPeriodPoverty aangebied is, het die Strandfontein-sportkompleks in ’n kaleidoskoop van kleure omskep.
Ongeveer 100 inwoners van oor die stad heen het aan die 5 km-lopie deelgeneem, wat broodnodige bewustheid oor menstruele armoede verhoog het.
Met die organisasie wat vanjaar duisende meisies reg oor die provinsie bereik het, sal hul werk in Februarie hervat word.
Lindsay Adams, die stigter van die organisasie, sê hul werk het in 2019 begin en is steeds heeltemal selfgefinansier.
“Dit gaan nie net oor die ontvangs van die sanitêre doekies nie, maar die skep van bewustheid oor hierdie globale kwessie,” sê sy.
Die organisasie het ’n beroep op deelnemers gedoen om vyf pakke sanitêre doekies elk as ’n toegangsfooi te skenk, wat gelei het tot 3 120 pakke wat vir die doel ingesamel is.
Borge van die geleentheid het PSG Insure, BayPort Financial Services, aQuelle, Ruby Rose Feminine Sanitary Pads en Loot.co.za ingesluit.
Die organisasie aanvaar steeds skenkings deur Loot.co.za te besoek en by “Against Period Poverty” te kyk.