Kleintjie brand dood

As sy maar eerder nie die kers gaan koop het nie, het haar kind vandag nog gelewe.


As sy maar eerder nie die kers gaan koop het nie, het haar kind vandag nog gelewe.

Só dink die bedroefde Anthea Anthony, die ma van die vier maande oue Fazlin Anthony, die baba wat verlede week in Goodwood doodgebrand het.

Die baba was bang vir die donker en omdat daar nog net ’n stukkie van die kers oor was, het Anthony besluit om gou winkel toe te hardloop en ’n nuwe een te koop.
“Ek het die kind by my lewensmaat gelos en was vir tien minute weg. Toe ek terugkom was my huis afgebrand en my kind dood. Sy was baie bang vir die donker en het gegil as die kers doodgaan. As ons maar in die donker geëet en toe gaan slaap het,” sê Antony hartseer by die swart kol waar hul huis eers was.

Drome vir kind
“Ons het soveel drome gehad vir die kind. Een daarvan was dat sy nie in dieselfde omstandighede as ons moes grootword nie. Die plan was dat sy by my ma gaan bly as sy nege maande oud word. Hulle het ook uitgesien na haar koms. Nou het die koue hand van die dood haar kom haal.”
Anthony het nog twee minderjarige kinders. “Ons het alles verloor. Nie ek, my lewensmaat of my kinders het klere om aan te trek nie. My suster het ons vir eers nou herberg gegee, maar ons weet nie wat die toekoms inhou nie.”
Sy glo dit is God wat met hierdie tragedie met hulle praat. “Ons sal ons lewens moet bekyk en besin oor wat ons wil doen. Ek dink dit is tyd dat ons ons lewens moet regruk.”
Intussen gebruik sy medikasie om oor die ergste pyn te kom.
“Ek het nog geen berading ontvang nie en gebruik maar die pille om te slaap. Saans is vir my die ergste. Dan word ek bang en ek bewe. Dié pyn binne my sal seker nooit weggaan nie. Vir my is dit nou net belangrik om elke dag op staan en te probeer aangaan.”

Vergeefs probeer
Anthea se lewensmaat, Faizel Prins, het probeer om Fazlin se lewe te red, maar tervergeefs. Hy sterk tans in die Tygerberg-hospitaal aan ná hy brandwonde op 25% van sy liggaam opgedoen het.
Volgens Anthony wil Prins nie weer terugkom na waar hul huis eens was nie. “Hy voel dié is die keerpunt en ons moet nou ’n plan maak om ons lewens te verbeter.”
Fazlin kon nog nie begrawe word omdat die nadoodse ondersoek nog nie afgehandel is nie. DNS-toetse moet nog op die oorskot gedoen word.

  • Mense wat Anthony en haar gesin wil bystaan, kan haar by 082 639 5861 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.