Twee jong kinders het gesterf in ’n brand Sondagnag by hul wendyhuis in die agterplaas van ’n huis in Fisantekraal.
Meer as 30 mense is sonder ’n heenkome gelaat nadat die brand versprei het en sowat vier wendyhuise in puin gelaat is.
’n Vrou en nog twee kinders, wie se geslag en ouderdom onbekend is, is met ernstige brandwonde in die hospitaal opgeneem.
Volgens kapt. Marchel Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, het die brand omstreeks 11:15 by die wendyhuis in Langverwachtweg ontstaan. Dit is vermoedelik veroorsaak deur ’n tweeplaatstofie wat aangelos is, het hy gesê.
Die kinders, ’n eenjarige seuntjie en vierjarige meisie, is vermoedelik in die brand oorlede.
’n Vrou, vermoedelik hul ma, en nog twee kinders is met ernstige brandwonde opgeneem, het Rhode gesê.
Die saak is aan die Durbanvillle-polisie oorhandig vir ’n geregtelike ondersoek.