Lus vir ’n lekker staptog in die veld om daardie laaste vetjies van die somervakansie af te skud?
Weg beplan sy eerste stapfees waar jy stewige kilometers op jou bene kan kry en daarna lekker gesellig om die kole kan kuier.
Suid-Afrika het baie pretlope en wedlope vir drawwers, maar daar is min geleenthede vir spesifiek stappers, waar hulle boonop nie op teerpaaie nie maar in die veld kan oefen.
Die Weg-stapfees, aangebied deur Hi-Tec in samewerking met Stanley, is ’n reeks “pretstappe” wat oor een naweek van 16 tot 18 Februarie plaasvind op die Meerendal-wynlandgoed op die Vissershokpad tussen Kaapstad en Durbanville.
Daar is drie afsonderlike stap-byeenkomste op een naweek en jy kan kies of jy aan een of al die pretstappe wil deelneem.
Die pretstappe begin en eindig almal by Meerendal, waar jy verblyf kan bespreek, saam kan braai of in enige van die restaurante kan eet. Maar dis ’n naweeklange kuier waar daar gestap word.
Die afstande
Vrydag-vroegaand is daar ’n maklike 5 km op Meerendal wat geskik is vir die hele gesin. Bespreek ’n braaipak en kuier daarna saam met die Weg-span!
Saterdagoggend kan jy kies tussen ’n 5 km, 12,5 km of ’n stewige 25 km. Die roetes loop oor Meerendal, sowel as die buurplase. Die pretstappe spring op ’n spesifieke tyd weg en volg ’n roete wat deur beamptes aangewys word. Dit is dus soos ’n wedloop – net baie lekkerder.
Sondag kan jy ’n maklike 10 km aflê voor die afsluiting en prysuitdeling, wat ook geskik is vir die hele gesin.
Verblyf en etes
Jy kan van die verblyfopsies op Meerendal bespreek of by jou eie huis slaap en net kom deelneem.
Braaipakke kan bespreek word vir die Vrydag- en Saterdagaand (bykosse, eetgerei, kole en braairoosters word ook voorsien), of bespreek ’n tafel by een van die twee restaurante op Meerendal.
Daar is ook ’n kostrokkie wat deli-produkte verkoop en ’n biertent. Die langasems op die 25 km-roete kry saam met hul inskrywing ’n toebroodjie by die wegspringplek, wat hulle op die pad kan eet.
Daar sal hope parkering wees met Meerendal wat ’n ekstra terrein beskikbaar stel.
Onthou
- Die roetes loop oor grond- en plaaspaaie – geen teerpaaie nie. Bring die regte skoene. Bring ook ’n hoed. Hi-Tec (wat ’n tak in Tygervallei het) maak bekostigbare veldlooptekkies wat voldoende sal wees.
- Omdat die roete op smal paaie tussen wingerde loop, word die getal inskrywings beperk. Bespreek so gou as moontlik.
- Hoewel daar ’n amptelike wegspringtyd is, word daar nie tyd gehou nie en niemand kan die byeenkoms “wen” nie.
- Jy moet jou eie water en verversings saamdra. Daar sal twee of drie waterpunte langs die roete wees waar jy weer bottels kan volmaak, maar geen glasies of watersakkies gaan uitgedeel word nie. Ons stel voor jy berei voor soos vir ’n dagstap: Pak ’n dagrugsak in met water, toebies (wat ons voorsien vir die 25 km-stappers), jellielekkers, pleisters en rehidrasiemiddel. Neem ’n plastieksak saam en dra asseblief jou eie vullis terug na die wegspringplek.
- Jy hoef nie in die verblyf op Meerendal oor te bly nie (maar dit gaan pret wees).
- Kinders is welkom, maar moet verkieslik al self kan stap. Die paaie op Meerendal is nie geskik vir stootwaentjies nie.
- As jy met stapstokke stap, wees bewus van die mense om jou.
- Geen honde word op Meerendal toegelaat nie.
- Mag jy die afstande hardloop? Ons verkies dat jy stáp, maar die byeenkoms het nie beamptes en ’n stel reëls wat streng toegepas word nie. Moet asseblief nie vir stappers skree “hou links” nie.
- Die roete het ’n paar ongemaklike bultjies. Ons stel voor jy oefen.
Daar is verskeie opsies waaruit jy kan kies na gelang van die afstande wat jy wil loop. Die duurste pakket sluit ’n mooi staphemp en lekker geskenkpak in. Inskrywings sluit 4 Februarie. Besoek https://wegstapfees.topevents.co.za.